Die VF Plus in Mpumalanga veroordeel optrede van die ANC wat aan die onredelike eise van stakende munisipale amptenare van die Steve Tshwete-plaaslike munisipaliteit (Hendrina, Middelburg, Pullens Hope, Rietkuil) toegegee het nadat hulle Middelburg van ‘n spogdorp tot ‘n rommelhoop verander het.
Die munisipale bestuurder van die munisipaliteit, Bheki Khenisa, en die hoof van Mpumalanga se departement vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Samukelo Ngubane, het Dinsdag ‘n ooreenkoms met die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie (Samwu) bereik aangaande die stakers se eise.
In die ooreenkoms word bepaal dat al die stakende werkers wat op 12 November afgedank is, met onmiddellike effek heraangestel word en dat hul salarisse aangepas moet word om aan hul eise te voldoen.
Die munisipaliteit sal ook van ‘n Vlak 4-munisipaliteit tot Vlak 5 opgradeer. Die munisipaliteit beskik egter nie oor die nodige fondse om die opgradering te regverdig nie.
Dit is onaanvaarbaar dat hierdie ooreenkoms gesluit is sonder om die nuwe munisipale raad in die besluit te ken.
Hierdie eensydige optrede ontneem wetsgehoorsame inwoners en belastingbetalers van hul reg om insae te lewer in sake wat hulle direk raak en is ‘n teken van swak politieke leierskap.
Die VF Plus het dringende vrae gerig aan die LUR vir Cogta, Busisiwe Shiba, oor haar ondersteuning van die ooreenkoms, hoe sy dit kan regverdig om aan stakende munisipale amptenare se onredelike eise toe te gee en wie pa gaan staan vir die ekstra fondse om die opgradering tot ‘n Vlak 5-munisipaliteit te bewerkstellig.
Plundery en die gooi van petrolbomme grens aan sabotasie en die VF Plus is ten sterkste gekant daarteen dat toegegee is aan die stakers se eise en daar nie eerder ‘n sterk boodskap aan hulle gestuur is dat hierdie soort optrede nie ongestraf kan bly nie.Dit versterk net stakende en plunderende munisipale amptenare se idee dat hulle met geweld hul sin sal kry ten koste van inwoners.
Die inwoners van Steve Tshwete is die groot verloorders in hierdie debakel en gaan tien teen een vir die opgradering en onredelike salarisverhogings met verhoogde belastings en tariewe gestraf word.