Die VF Plus verwelkom die formele ontbinding van die munisipale raad in die ANC-beheerde Ditsobotla-plaaslike munisipaliteit ((Lichtenburg, Coligny en Bakerville) tydens ‘n spesiale sitting van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) vandag.
‘n Nuwe munisipale raad sal in die nabye toekoms in ‘n tussenverkiesing verkies word.
Die NRP se besluit om die raad te ontbind, volg op jarelange onstabiliteit en ‘n gevolglike ineenstorting van dienslewering in die munisipaliteit.
Die inwoners van onder meer Lichtenburg en Coligny moes toesien hoe hul dorpe stelselmatig verval weens voortdurende ANC-faksiegevegte en die stroping van munisipale bates en belastinggeld.
Verskeie pogings van Noordwes se provinsiale regering om by die munisipaliteit in te gryp, is telkens vyandig deur die verskillende plaaslike ANC-faksies ontwrig en het geen vrugte afgewerp nie.
‘n Verslag van die openbare beskermer (OB) het ook die omvang van die korrupsie en nepotisme in die munisipaliteit belig.
Tientalle onreëlmatige aanstellings is gedoen waaronder die oortollige aanstelling van veertig familielede en vriende van ANC-raadslede.
Tenderkorrupsie van miljoene rande is ook ontbloot en word verder deur die owerhede ondersoek.
Die NRP het ook op aandrang van die VF Plus ‘n besluit geneem dat daar ‘n volledige vaardigheidsoudit in die munisipaliteit gedoen word voordat enige verdere aanstellings gemaak word.
Daar moet seker gemaak word dat slegs behoorlik gekwalifiseerde persone in die toekoms aangestel word.
Dit is belangrik dat die inwoners van Lichtenburg, Coligny en Bakerville die geleentheid aangryp en in die komende verkiesing verseker dat net persone met ‘n vaste verbintenis tot diens in die belang van die gemeenskap, tot die munisipale raad verkies word.
Die VF Plus sien uit na die geleentheid om die party se teenwoordigheid in die raad met die verkiesing te vergroot om aanspreeklikheid en professionele dienslewering te bevorder.
Die inwoners van Lichtenburg, Coligny en Bakerville verdien beter as die ANC.