Die moord op die Duitse toeris Jörg Schnarr naby die Numbi-hek van die Nasionale Krugerwildtuin laat opnuut die soeklig val op die hoë voorkoms van rooftogte en aanvalle op die berugte Numbi-pad.
Die regering sal nou daadwerklik moet optree.
Die slagoffer en drie ander toeriste is deur drie gewapende verdagtes voorgekeer wat hulle beveel het om hul voertuigdeure oop te maak.
Die bestuurder het hom egter verset en die deure gesluit. Gevolglik het een van die verdagtes hom deur die venster in die bolyf geskiet.
Die VF Plus het reeds in Mei vanjaar daarop aangedring dat daar onder meer ‘n sterk polisie-sigbaarheid in die gebied moet wees.
Verskeie besoekers aan die wildtuin is die afgelope paar maande beroof nadat hulle die park via die Numbi-hek verlaat het.
Die VF Plus het 'n veiligheidsplan by die provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid ingedien met betrekking tot:
• Identifisering en ontleding van sleutelbrandpunte;
• Vestiging van 'n databasis van misdaad teen toeriste;
• Verbetering van die toerisme-omgewing deur sigbare polisiëring en die implementering van toerisme-moniteringsprogramme, en
• Die vestiging van 'n 24-uur blitslyn vir toerismeveiligheid.
Alhoewel dit aanvaar is, is daar nie veel werk van gemaak tot op hede nie. Dit kan nie langer geïgnoreer word nie.
Die beskerming van alle toeriste, die voorkoming van georganiseerde misdaad en die bevordering van volhoubare toerisme-ontwikkeling is uiters belangrik vir Mpumalanga.
Die VF Plus betuig sy innige meegevoel met die vriende en familie van die oorledene.