Die VF Plus het die openbare beskermer (OB) genader om ’n onafhanklike ondersoek te doen na die proses en omstandighede wat gelei het tot die voorkomende skorsing van die Tshwane-metro se stadsbestuurder, Johann Mettler.
Die party is bekommerd dat die mosie van skorsing wat die EFF-raadslid, Obakeng Ramabodu, voorgestel het en deur die ANC en ActionSA ondersteun is, nie slegs op administratiewe gronde berus nie.
Daar bestaan ’n sterk vermoede dat die besluit polities gemotiveerd is en verband hou met Mettler se standpunt oor sekere tenderprosesse wat die Madlanga-kommissie tans ondersoek.
Die VF Plus wys veral daarop dat die ANC se adjunkburgemeester, Eugene Modise, wat die mosie ondersteun het, self reeds vroeër skuldig bevind en beboet is vir onreëlmatige inmenging in munisipale tenderprosesse.
Dit is van kritieke belang dat senior amptenare beskerm word teen politieke inmenging en dat die integriteit van die munisipale administrasie gehandhaaf word.
Daarom het die VF Plus die OB versoek om die saak volledig te ondersoek.
Die VF Plus staan vir ’n professionele, stabiele en onpartydige munisipale administrasie. Ons glo dat enige dissiplinêre proses teen ’n senior amptenaar regverdig, deursigtig en vry van politieke motivering moet wees.
Inwoners van Tshwane verdien ’n munisipaliteit waar goeie bestuur en dienslewering voorop gestel word en nie politieke opportunisme nie.
Die tyd is nou vir kiesers om te stem vir die VF Plus wat die belange van inwoners op die hart dra.


