Die VF Plus waarsku al geruime tyd dat die Nelson Mandelabaai-metro (NMBM) se waterinfrastruktuur weens jare se agterstallige instandhouding, swak bestuur en gebrekkige beplanning, besig is om te verbrokkel.
Die jongste krisis het dit duidelik gemaak dat die probleem nie net weens die onlangse oorstromings veroorsaak is nie, maar dat die oorstromings die diepliggende gebreke in die metro se waterstelsel blootgelê het.
Inwoners in gebiede soos KwaNobuhle kla oor bruin, troebel en skuimende kraanwater, terwyl duisende huishoudings elders vir dae sonder water sit.
Reservoirs soos Rosedale, Lovemore Heights en Upper Tank staan op 0%, terwyl ander kritiek laag is (Airport 1%, Gelvandale 6%, Chelsea en Emerald Hill 8%).
Nog meer ontstellend is dat die metro slegs 22% van sy kapitaalbegroting vir infrastruktuur bestee het en op koers is om sowat R236 miljoen aan infrastruktuurtoekennings aan die nasionale tesourie (NT) terug te gee weens swak implementering.
Terselfdertyd het die waterdirektoraat ’n vakaturekoers van 44%, met slegs drie van 73 kritieke poste wat sedert Mei gevul is.
Die metro erken self dat meer as R117 miljoen benodig word om waterbehandelingswerke te rehabiliteer. Hierdie investering moes jare lank sistematies plaasgevind het.
Die VF Plus eis ’n omvattende infrastruktuurherstelplan wat fokus op voorkomende instandhouding, die spoedige aanstelling van gekwalifiseerde personeel, doeltreffende projekbestuur en volle besteding van beskikbare fondse. Water is ’n basiese diens en inwoners verdien skoon drinkwater en ’n betroubare toevoer.
Daar moet ook daadwerklike gevolgbestuur wees. Waar nalatigheid of swak bestuur tot die krisis bygedra het, moet die verantwoordelike amptenare en politieke leiers aanspreeklik gehou word.
Inwoners van Nelson Mandelabaai het op 4 November 2026 die geleentheid om ’n duidelike keuse te maak.
Deur vir die VF Plus te stem, kan hulle ’n einde bring aan jare se wanbestuur, swak dienslewering en die voortdurende agteruitgang van basiese infrastruktuur soos water.
Dit is tyd dat inwoners hul stem gebruik om ’n munisipaliteit te kry wat hul behoeftes prioritiseer.


