Die VF Plus het in ‘n skrywe aan Noordwes se LUR vir plaaslike regering en tradisionele sake (Cogta), Mmoloki Chailwe, aangedring op dringende ingryping by die Matlosana-plaaslike munisipaliteit (Hartbeesfontein, Klerksdorp, Orkney, Stilfontein).
Die Matlosana-gemeenskap gaan reeds vir maande gebuk onder die wanbestuur van die munisipaliteit wat onder meer veroorsaak word deur die voortslepende ANC-faksiegevegte in die provinsie en wat nou oorgespoel het na die plaaslike raad.
Hierdie skrywe volg nadat ‘n geskeduleerde raadsvergadering van Matlosana Dinsdag weereens in chaos geëindig het. Die speaker in die raad, Washington Ntozini, het geweier dat voorafbepaalde agendapunte enigsins bespreek word of tot stemming gebring word. Hy het bloot die vergadering eensydig verdaag.
Die vergadering was spesifiek belê om ‘n mosie van wantroue in die speaker te behandel en om op ‘n behoorlike en wettige wyse ‘n nuwe burgemeester te verkies nadat me. Maeto Kgaile reeds in September 2020 formeel as burgemeester bedank het.
Dit blyk dat Kgaile haarself op 11 Januarie 2021 weer onregmatig “aangestel” het as burgemeester met die volle medewete van die speaker en die uitvoerende bestuur van die munisipaliteit.
Haar huidige funksionering as burgemeester is totaal onwettig en die VF Plus het hierdie feit ook onder die aandag van die LUR gebring.
Dit is onaanvaarbaar dat ‘n eens vooruitstrewende munisipaliteit, wat ‘n ekonomiese kerngebied van Noordwes is, letterlik ten gronde bestuur word deur die ontwrigtende optrede van ANC-kaders.
Dienslewering in die munisipaliteit het byna tot stilstand gekom weens die onstabiliteit in die raad wat munisipale administrasie en werksaamhede lamlê.
Die VF Plus sal aanhou om sy invloed te gebruik en sal druk uitoefen op die provinsiale regering om op te tree teen munisipaliteite wat gebuk gaan onder magsvergrype, korrupsie en wanbestuur.
Die ANC se skaamtelose en ontwrigtende optrede in die provinsie, ten koste van plaaslike gemeenskappe, kan nie langer geduld word nie.
Kiesers moet hierdie tipe optrede deur ANC-beheerde munisipaliteite met hul kruisies straf in die komende verkiesings.
Navrae: 082 529 3001


