Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus-Mpumalanga eis optrede teen Dipaleseng-munisipaliteit se kommunikasiebeampte

Die VF Plus gaan die waarnemende munisipale bestuurder van die Dipaleseng-plaaslike munisipaliteit (Balfour, Greylingstad, Grootvlei), Johnny Mokgatsi, versoek om op te tree teen die munisipaliteit se kommunikasiebeampte weens dié se versuim om die gemeenskap se vrae oor dienslewering en die munisipaliteit se finansies te beantwoord.

Die beampte is veronderstel om die gemeenskap se vrae en klagtes met die raad te kommunikeer vir beantwoording, maar belastingbetalers van Dipaleseng word hieroor in die duister gehou.

Dringende vrae van verskeie burgerregte-organisasies en politieke groepe word bloot nie beantwoord nie.

Plaaslike inwoners het ook weer ‘n griefskrif aan die betrokke beampte oorhandig aangaande die munisipaliteit se gebrek aan basiese dienslewering in die dorpe onder sy beheer. Geen erkenning van ontvangs of enige vorm van terugvoer is teen die spertyd van 3 Februarie 2021 ontvang nie.

Volgens die VF Plus se takvoorsitter en Dipaleseng, Carel Pienaar, neem die munisipaliteit al vir jare dienslewering nie ernstig op nie. Vae beloftes word tydens gemeenskaplike ontwikkelingsvergaderings gemaak, maar daar is geen sigbare vordering nie.

Sake wat dringend aandag verg, sluit in die skokkende toestand van paaie, basiese dienslewering en die instandhouding en vervanging van verouderde elektrisiteits-infrastruktuur wat nie in staat is om sakeondernemings van krag te voorsien nie.

Die munisipaliteit kon tydens die laaste finansiële jaar nie daarin slaag om agterstallige krag- en waterrekeninge in te vorder nie en het R7,4 miljoen aan krag- en R10,5 miljoen aan waterinkomste verloor.

Volgens die provinsiale tweede-kwartaalverslag van 31 Augustus 2020, is Dipaleseng se skuld aan Eskom R 62,5 miljoen en 31% van die poste in die finansiële afdeling is vakant.

Die VF Plus sal aanhou veg vir die reg van getroue belastingbetalers in Dipaleseng op antwoorde en doeltreffende dienslewering waarvoor hulle ten duurste betaal. Inwoners se klagtes kan nie net geïgnoreer word deur munisipale amptenare nie.

Navrae: 084 652 9164 / 076 687 2830

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.