Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus veroordeel roekelose salaris-skikking wat Tshwane R1 miljard kos

Die VF Plus veroordeel die aankondiging van die ActionSA-burgemeester van die Tshwane-metro, Nasiphi Moya, rakende die salaris-skikking met die munisipale vakbonde Imatu en Samwu.

Alhoewel die VF Plus die belangrikheid van billike arbeidsverhoudinge erken, plaas hierdie ooreenkoms ’n ondraaglike las op Tshwane se reeds oorbelaste belastingbetalers.

Die skikking sluit ’n 3,5%-salarisverhoging terugwerkend tot Julie 2021 in, die vereffening van agterstallige betalings van meer as R1 miljard en ’n verdere toekomstige las van R450 tot R525 miljoen per jaar. Dit alles terwyl inwoners reeds gebuk gaan onder swak dienslewering, vervallende infrastruktuur en stygende tariewe.

Die ouditeur-generaal (OG) se verslag van 2025 het ’n gekwalifiseerde mening oor Tshwane se finansies uitgereik en gewaarsku oor ernstige kontantvloeitekorte, stygende laste, swak inkomste-invordering en diensleweringsprobleme wat direk aan finansiële onstabiliteit gekoppel is.

Hierdie beoordeling bevestig dat die metro se finansiële posisie onvolhoubaar is. Teen hierdie agtergrond is die skikking eenvoudig onbetaalbaar en onverantwoordelik.

Die VF Plus wil daaraan herinner dat die vorige koalisie, waarvan die party deel was, die saak na die Arbeidshof verwys het.

In Mei 2025 het die hof die 3,5%-verhoging terugverwys na die bedingingsraad vir heroorweging, terwyl die metro wel vrystelling gekry het van die 5,4%-verhoging vir 2023/24, juis omdat die metro se finansiële posisie kritiek was.

Indien die saak met vasberadenheid voortgesit is, sou die metro waarskynlik ook van die 3,5%-verhoging vir 2021/22 vrygestel kon word.

Die VF Plus wil ook daarop wys dat Salga die bedingingsraad oorheers, wat op sy beurt oorheers word deur die ANC en vakbonde soos Samwu en Imatu.

Hierdie samestelling bevoordeel salarisverhogings en plaas munisipaliteite op ’n agtervoet, met belastingbetalers wat die prys betaal vir vakbond-gedrewe skikkings.

Onder die ActionSA-geleide koalisie, gesteun deur die ANC en die EFF, is dit duidelik dat fiskale verantwoordelikheid nie ’n prioriteit is nie.

Om aan vakbonddruk toe te gee terwyl die metro se benarde finansiële posisie geïgnoreer word, is nie leierskap nie, maar fiskale roekeloosheid wat Tshwane op die pad na bankrotskap plaas.

Inwoners verdien beter as korttermyn-pleisters wat hul toekoms verpand vir politieke gewin.

Die VF Plus doen ’n beroep op kiesers van Tshwane om hierdie siklus van agteruitgang in die komende 2026-plaaslike verkiesings te verwerp en vir die VF Plus te stem om die soustrein te stop.

Die VF Plus sal fokus op verantwoordelike finansiële bestuur, doeltreffende dienslewering en deursigtigheid en die bou van ’n metro wat vir al sy mense werk.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.