Die VF Plus neem kennis van die onlangse skeuring tussen die ANC en EFF in die Ekurhuleni-metro. Hierdie ontwikkeling bevestig dat die koalisieregering van meet af nie gesond of stabiel nie was nie, maar gesteun het op politieke beheer en magspel eerder as op volhoubare samewerking en dienslewering.
Die herstrukturering, insluitend die verwydering van twee EFF-burgemeesterskomiteelede en die vervanging van die speaker, het die fokus verder weg van dienslewering geskuif en inwoners met onsekerheid en swak diens gelaat.
Die VF Plus is van mening dat die huidige gebeure nie net ’n nuwe fase van onstabiliteit inlei nie, maar ook die bestaande politieke onrus versnel.
Met meer as vyftien partye in die raad, bestaan daar tegnies opsies om posisies te vul, maar die VF Plus waarsku dat verdere politieke verdelings nie ’n volhoubare oplossing bied nie.
Wat Ekurhuleni nou benodig, is stabiele, verantwoordelike leierskap wat dienslewering eerste stel en nie eie rigting en selfbehoud nie.
Die VF Plus bied juis daardie stabiliteit en beginselvaste leierskap, met ’n fokus op praktiese oplossings wat werklik werk: Konsekwente dienslewering, streng finansiële dissipline en meetbare projekte wat woongebiede verbeter.
Die party ervaar reeds betekenisvolle groei in betrokkenheid en lidmaatskap, wat bevestig dat gemeenskappe smag na volwasse kundigheid en aanspreeklikheid in plaaslike bestuur.
Die VF Plus is gereed om verantwoordelikheid te neem en samewerking te bevorder wat op beginsels en dienslewering berus.
Die party doen ’n beroep op alle rolspelers om die beste belang van inwoners eerste te stel en nie politieke posisionering nie.


