Die VF Plus het tydens die jongste raadsvergadering van die Mogale City-plaaslike munisipaliteit (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift) aangedring op ’n verduideliking oor ’n tender wat onregmatig toegeken is vir die herstel van groot ’n verkoelde houer in die Krugersdorp-wildtuin – ’n terrein wat reeds in 2007 sy deure vir die publiek gesluit het.
Die wildtuin, wat eens ’n gewilde restaurant gehuisves het, is al byna twee dekades lank buite werking. Tog is ’n openbare tender vir die herstel van die houer op 17 Oktober 2025 geadverteer en kort daarna gekanselleer.
Nietemin is die tender op 19 November 2025 aan Marobeng Construction in Kagiso toegeken sonder dat enige bedrag by die toekenning aangedui is.
Die VF Plus het van die burgemeesterskomiteelid vir korporatiewe ondersteuningsdienste, Kholeka Mandyu, ʼn verduideliking geëis oor watter proses gevolg is om die tender goed te keur en waarom die dokumentasie so onvolledig is.
Tot dusver is geen duidelike antwoorde verskaf nie. Hierdie onduidelikheid laat ernstige vrae ontstaan oor die deursigtigheid en bestuur van die munisipaliteit.
Die weerhou van antwoorde skep die indruk dat inligting doelbewus teruggehou word. Raadslede is boonop toegang tot die wildtuin geweier, wat ’n behoorlike oorsigbesoek onmoontlik maak.
Op 16 Februarie het die VF Plus ’n oproep ontvang waarin aangedui is dat die burgemeesterskomiteelid vir finansies antwoorde sou verskaf, maar tot op hede is geen terugvoering ontvang nie.
Die VF Plus beklemtoon dat die publiek volledige deursigtigheid verdien oor alle tenderprosesse en die besteding van belastingbetalers se geld. Hierdie aangeleentheid sal verder opgevolg word totdat duidelike en volledige antwoorde verskaf word.


