Die VF Plus is besorgd oor die waterkrisis in die Johannesburgse metro en die stad se voortdurende versuim om uitstaande munisipale skuld in te vorder.
Johannesburg word tans ’n skokkende R71 miljard in onbetaalde munisipale rekeninge geskuld. ’n Beduidende gedeelte van hiervan spruit uit gebiede soos Soweto, waar die maandelikse invorderingskoers tussen 40% en 50% wissel.
In teenstelling hiermee handhaaf belastingbetalers in die noordelike en westelike voorstede konsekwent invorderingskoerse van bo 90% per maand.
Hierdie wanbalans plaas ’n onregverdige en onvolhoubare las op betalende inwoners en ondernemers.
Terwyl lojale en wetsgehoorsame belastingbetalers hul verpligtinge nakom, word groot gedeeltes van die stad se verbruikersbasis van aanspreeklikheid vrygestel weens ’n gebrek aan politieke wil.
Elke jaar word die stad gedwing om lenings van miljarde aan te gaan bloot om basiese dienslewering te handhaaf en finansieel kop bo water te hou. Terselfdertyd word uitstaande skuld afgeskryf of eenvoudig nie ingevorder nie, wat die stad se brose finansiële posisie verder verswak.
Die ANC-geleide administrasie het toegelaat dat ’n kultuur van wanbetaling oor jare posvat. Dit het nou ’n kritieke punt bereik waar die finansiële gevolge en infrastruktuurverval nie langer geïgnoreer kan word nie.
Die huidige waterkrisis word verder vererger weens die metro se onvermoë om water wat van Rand Water aangekoop word, effektief te herverkoop. Massiewe waterverliese vind plaas weens diefstal, wanbetaling en ernstig verswakte infrastruktuurstelsels wat groot hoeveelhede water laat verlore gaan voordat dit die verbruiker bereik.
Die enigste oplossing is om skuldinvorderingsmaatreëls streng toe te pas en seker te maak dat gelyke skuld-afdwinging oor alle gemeenskappe in die metro plaasvind.
Inwoners wat getrou vir dienste betaal, moet nie gestraf word weens verswakkende dienslewering, tariefverhogings en infrastruktuurmislukkings wat veroorsaak word deur administratiewe nalatigheid en selektiewe afdwinging nie.
Die VF Plus doen ’n beroep op die Johannesburg om dringend strenger kredietbeheermaatreëls toe te pas, fakturering en invordering te verbeter en infrastruktuurinstandhouding te prioritiseer om verdere agteruitgang van waterdienste te voorkom.


