Die VF Plus veroordeel die voorval die naweek waarin 'n plaasboer van Potchefstroom, mnr. Hennie Niemand, in 'n aanval gewond is.
Hy is gewond, maar kon daarin slaag om terug te skiet en 'n aanvaller is noodlottig gewond. Die kinders en plaaswerker wat teenwoordig was, is ongedeerd. Volgens inligting is ‘n gesteelde Z88-pistool op die toneel gevind.
Die aanvaller was glo op borgtog na ‘n vorige voorval in dieselfde omgewing.
Die VF Plus veroordeel die toenemende anargie in landelike gebiede ten sterkste, maar verwelkom die feit dat mnr. Niemand die aanval kon afweer.
Die VF Plus dring daarop aan dat die borgvoorwaardes van geweldsmisdadigers dringend hersien word en strenger wetgewing op hulle van toepassing gemaak word. Hierdie is die hoeveelste voorval waar so 'n misdadiger op geringe borg vrygelaat is om weer sy misdadigheid voort te sit.
Hierdie voorval, en spesifiek Hennie Niemand se paraatheid wat ‘n erger tragedie afgeweer het, is opnuut 'n wekroep op boere om hul waaksaamheid te verskerp en hul plaaslike veiligheidstrukture te versterk.
Die VF Plus bid mnr. Niemand 'n spoedige herstel toe.