Die VF Plus veroordeel die brutale plaasaanval wat die afgelope naweek in die Heilbron-omgewing plaasgevind het waarin ’n plaaswerker vermoor en sy vrou ernstig gewond is tydens ’n veediefstal.
Luidens berigte het elf aanvallers skape gesteel en die egpaar wreed aangeval. Danksy die vinnige reaksie van die polisie en plaaslike boere is die verdagtes in hegtenis geneem en 22 gesteelde skape teruggekry.
Die VF Plus prys die samewerking tussen die plaaslike boeregemeenskap en die polisie wat gelei het tot hierdie vinnige deurbraak en inhegtenisnemings.
Volgens verslae van Vrystaat Landbou en die polisie is verskeie dorpe en distrikte in die Vrystaat reeds as “rooi gebiede” vir veediefstal en plaasmisdaad geïdentifiseer. Hierdie misdade het ’n verwoestende impak op boere, plaaswerkers en hul gesinne en bedreig voedselveiligheid en plaaslike werksgeleenthede.
Die toenemende veediefstal lei nie net tot ekonomiese verliese nie, maar veroorsaak ook dat geweldsmisdaad aangewakker word. Wanneer georganiseerde veediefstal ongestraf bly, lei dit dikwels tot bloedige aanvalle op weerlose mense op plase.
Dit wil voorkom asof sommige van die verdagtes moontlik by vorige misdade betrokke was. Indien dit wel die geval is, sal die VF Plus daarop aandring dat streng vervolging teen hierdie herhalende oortreders ingestel word.
Die VF Plus doen ’n dringende beroep op die polisie om sigbare polisieteenwoordigheid in hierdie gebiede te versterk en gereelde padversperrings en nagpatrollies te hou.
Tot dan moet inwoners binne die raamwerk van die wet hul eiendom beskerm en proaktief betrokke bly by landelike veiligheidsforums.
Die VF Plus spreek sy innige meegevoel uit met die familie van die slagoffers en wens die gewonde vrou ’n spoedige herstel toe.
Die VF Plus sal nie toekyk hoe landelike gemeenskappe uitgelewer word aan misdaad nie.


