Die Ekurhuleni-metro se versuim om kraginfrastruktuur te beskerm, het daartoe gelei dat groot gedeeltes van Kemptonpark sonder krag sit sedert kabeldiewe drie dae gelede weer toegeslaan het.
Die gebiede wat geraak is, is Pomona, Pomona-landgoed, Brentwoodpark en dele van Glen Marais.
Die VF Plus word oorval met oproepe van inwoners wat kla dat hul kos bederf is, ondernemings ontwrig is en matrikulante wat nou flitse moet gebruik om vir die matriekeksamen voor te berei.
Die party het verskeie keer ʼn beroep op die metro gedoen om plaaslike sekuriteitsmaatskappye met die metro se sekuriteitsdienste te laat saamwerk teen diefstal en die vandalisering van kraginfrastruktuur. Die beroep het telkens op dowe ore geval.
Onbeskermde kragnetwerke in Kemptonpark het nou in ‘n speelgrond vir sindikate verander.
Dit is ook onaanvaarbaar dat die metro se departement van energie nie noodsaaklike inligting aan inwoners en raadslede verskaf oor wanneer die krag herstel gaan wees nie.
Die VF Plus sal nie stilbly terwyl die metro se onbekwaamheid en traagheid openbare vertroue skaad nie.
Die tyd het aangebreek vir leierskap van ʼn party wat inwoners se belange op die hart dra en werklike oplossings in Kemptonpark kan bring.


