Die VF Plus steun die beginsel van onafhanklike kragopwekking as ’n noodsaaklike stap na energieveiligheid en volhoubare groei.
Die party kan egter nie die Ekurhuleni-metroraad se jongste voorstel steun om nóg ’n 20 jaar-ooreenkoms met ’n onafhanklike kragprodusent (IPP) aan te gaan nie. Veral nie sonder duidelike bewyse dat bestaande projekte reeds resultate lewer nie.
Ondanks die VF Plus se waarskuwings hieroor tydens die pas afgelope raadsvergadering, het die meerderheid raadslede die voorstel aanvaar en die besluit deurgevoer.
Ten spyte van vorige IPP-goedkeurings in 2016 en 2022, het die raad nog geen geloofwaardige prestasieverslae ontvang wat tasbare vordering toon nie. Daar is tans geen bevestigde tariefverligting vir inwoners of ondernemings en geen bewys van verbeterde energie-stabiliteit binne die metro nie.
Indien Eskom om welke rede nou weer beurtkrag instel, sal die vorige goedkeurings niks help om beurtkrag in Ekurhuleni te verlig nie.
Voordat inwoners en belastingbetalers weer aan ’n langtermynkontrak verbind word, dring die VF Plus daarop aan dat die metro volle deursigtigheid moet bied oor die prestasie en uitkomste van bestaande IPP-ooreenkomste.
Dit is onverantwoordelik om nuwe energieprojekte goed te keur op grond van projeksies en beloftes, terwyl die publiek steeds daaglikse kragonderbrekings ervaar.
Vooruitstrewende beleid beteken niks sonder lewering, aanspreeklikheid en meetbare invloed nie.
Die VF Plus beskou hierdie proses dus as voortydig, totdat konkrete resultate voorgelê en onafhanklik geverifieer word.


