Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

R272 miljoen later en SAAME-projek in Germiston steeds onvoltooid

Die Ekurhuleni-metro moet dringende rekenskap gee oor die SAAME-bouprojek in Germiston wat reeds R272 miljoen se belastinggeld opgeslurp het sonder enige funksionele eindproduk.

Die SAAME-gebou in Germiston se sentrale sakekern is beplan as ‘n multifunksionele munisipale sentrum vir doeltreffende dienslewering aan inwoners.

Wat in 2017 as ’n beskeie opknappingsprojek van R46 miljoen begin het, het ontaard in ’n megaprojek wat ná sewe jaar, ses begrotingsaanpassings en herhaalde vertragings, steeds onvoltooid staan.

Die projek het herhaaldelik tot stilstand gekom weens wanbetaling aan kontrakteurs, swak bestuur en ’n voortdurende geskuif van verantwoordelikheid tussen departemente. Die jongste voltooiingsdatum, Junie 2025, is ook nie behaal nie.

Die verslag van die Infrastruktuur-oorsigkomitee wat aan die metroraad voorgelê is dien bloot as ‘kennisname’, sonder enige aanspreeklikheid of konkrete oplossings.

Trouens, die verslag erken self dat dit buite die voorgeskrewe tydraamwerk van 60 dae ingedien is, en dat daar oorvleueling met die finansiële-oorsigkomitee bestaan weens wanbetaling en kontrakvertragings.

Die VF Plus verwelkom die beplande gesamentlike vergadering tussen die infrastruktuur- en finansiële-oorsigkomitees, maar dring daarop aan dat die volgende aspekte in die ondersoek vervat moet word:

• ’n Volledige uiteensetting van alle betalings tot dusver.
• Die identifisering van amptenare wat vir die kostestyging en vertragings aanspreeklik is.
• Duidelike verslagdoening oor enige dissiplinêre- of regsaksie wat ingestel is of beplan word.

Hierdie projek is ’n skreiende voorbeeld van Ekurhuleni se vervalle projekbestuur. Ná sewe jaar en honderde miljoen rande is daar steeds geen voltooide gebou nie.

Die VF Plus sal nie ophou om finansiële én strafregtelike aanspreeklikheid van alle betrokke partye te eis nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.