Die jongste besluit van die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsbedingingsraad (SALGBC) oor terugwerkende salarisverhogings vir werknemers van die Tshwane-metro, kan ’n finansiële ramp van bykans R2 miljard vir die metro beteken.
Die SALGBC het op 1 November 2025 bevestig dat die verhogings van 3,5% terugwerkend geld vanaf 1 Julie 2023 tot 30 Junie 2024 — die finale jaar van die drie jaar-kollektiewe ooreenkoms.
Hierdie uitspraak is geen verrassing nie aangesien die bedingingsraad bestaan uit verteenwoordigers van die vakbonde Samwu en Imatu en die plaaslike regeringsvereniging, Salga, wat op sy beurt onder volledige ANC-beheer staan. Die samestelling laat min twyfel dat politieke oorwegings en nie finansiële realiteit nie, dié besluit beïnvloed het.
Tydens die onwettige Samwu-staking in 2023 het die huidige koalisie van ActionSA, die ANC en die EFF reeds kant gekies teen die metro se finansiële volhoubaarheid. Hulle het openlik simpatie getoon met Samwu se eise en aangedui dat hulle salarisverhogings steun, ongeag wat die koste vir die metro en sy inwoners sal wees.
Indien die regerende ANC/EFF/ActionSA-koalisie die verhogings toestaan, sal dit niks anders wees as ’n populistiese besluit met die oog op die komende munisipale verkiesing nie, ten koste van Tshwane se finansiële oorlewing en volhoubare dienslewering.
Die VF Plus wys verder daarop dat die bedingingsraad nie die metro se werklike finansiële omstandighede in ag geneem het nie. Hierdie besluit sal die metro se sogenaamde “befondsde begroting” finaal onbefonds maak.
Sou die regerende koalisie hierdie uitspraak aanvaar en uitvoer, sal hulle die volle verantwoordelikheid moet dra vir die finansiële ondergang wat daarop volg.
Die VF Plus doen daarom ’n ernstige beroep op die koalisie om ’n verantwoordelike besluit te neem en nie die metro finaal oor ’n finansiële afgrond te dryf nie.
Die VF Plus eis dat die Tshwane-metro hierdie saak onmiddellik na die Arbeidshof neem, sodat die geskil op gesonde, finansieel-regverdigbare gronde besleg kan word, soos reeds in die 2023/24-begroting bewys is, toe dit duidelik was dat die verhogings onbekostigbaar is.
Dit was juis die vorige koalisie-administrasie, waarvan die VF Plus deel was, wat die moeilike, maar verantwoordelike besluit geneem het om nie onvolhoubare verhogings toe te staan nie.
Dit was ’n stap wat die metro ʼn kans op finansiële herstel gegee het. Dié vooruitgang word nou deur politieke opportunisme uitgewis.


