Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Tshwane-koalisieregering hou front voor terwyl metro verbrokkel

Die VF Plus sal nie swyg terwyl die ActionSA/ANC/EFF-koalisie die Tshwane-metro se toenemende verval probeer verbloem nie.

Sleuteldokumente wat in Oktober aan die raad voorgelê is, wys dat die koalisie nie net onbevoeg is nie, maar dat sy wanbestuur die metro aktief na ’n finansiële en administratiewe afgrond dryf.

Luidens die dienslewering- en begrotingsimplementeringsplan (SDBIP) vir die eerste kwartaal van die 2025/26-boekjaar, is Tshwane se likiditeit in gedrang. Dit is ’n duidelike teken dat die sogenaamde “befondsde begroting” nie die realiteit weerspieël nie.

Verder het verskeie sleuteldepartemente, insluitend paaie en vervoer, water en sanitasie asook inligtingstegnologie en kommunikasie, nie hul beplande kapitaalbesteding vir die kwartaal bereik nie met sommige wat selfs geen vordering getoon het nie.

Die geouditeerde diensleweringsverslag vir die vorige kwartaal toon R43,6 miljoen se onreëlmatige uitgawes, insluitend eise vir verlore winste weens projekvertragings.

’n Verslag oor toekennings en toegifte tot 31 Julie 2025 identifiseer reeds gemeenskapsonrus, politieke ontwrigting en swak aankopebestuur as kernrisiko’s voortspruitend uit die wanbestuur.

Die sakeplan vir 2025/26 bevestig dat entiteite soos die Tshwane-behuisingsmaatskappy (HCT) sonder ’n voltydse finansiële hoof funksioneer, terwyl strategiese vermoë ontbreek.

Dié gebreke het tot gevolg dat diensleweringsvlakke onaanvaarbaar laag is, belastingbetalers mislei word en die metro se verbrokkelende reputasie beleggers afskrik.

Die VF Plus doen ’n dringende beroep op die koalisie om ’n doeltreffende aanwendingsplan vir subsidies en toekennings te ontwikkel, gefokus op invordering, kostebeheer en uitvoerbare projekte.

’n Herstelprogram vir agterstallige kapitaalprojekte moet duidelike mylpale en verantwoordelikheid per departement vasstel, met maandelikse terugvoer aan die raad.

Die artikel 80-komitees, wat aankopebestuur, begrotingsprestasie en departementele nakoming monitor, moet ook onmiddellik toegelaat word om hul oorsigrol te hervat.

Die VF Plus sal aanhou druk uitoefen vir eerlike bestuur, betroubare dienslewering en respek vir belastingbetalers. Die tyd vir politieke verskonings is verby.

Die tyd vir verantwoordelike bestuur, eerlike dienslewering en respek vir belastingbetalers het aangebreek.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.