Die VF Plus het Donderdag (gister) teen die aanstelling van Kagiso Lerutla as die nuwe stadsbestuurder van die Ekurhuleni-metro gestem op grond van die afwesigheid van kritieke inligting en kommer oor die proses wat gevolg is.
Die item wat aan die raad voorgelê is, het geen ondersteunende dokumentasie bevat nie; geen voorlopige lys, kortlys of bevoegdheidsassesseringsuitslae nie.
Raadslede moes een van die belangrikste administratiewe besluite neem op grond van ’n enkele sin sonder enige agtergrondinligting.
Die VF Plus glo dat geen verantwoordelike raadslid so ’n aanstelling kan steun sonder volledige en vooraf beskikbare dokumentasie nie. Deursigtigheid en behoorlike prosedure is noodsaaklik om vertroue in senior aanstellings te verseker.
Daar is ook kommer oor die kandidaat se geskiktheid. Lerutla het tot en met sy aanstelling gister as stadsbestuurder as groepshoof van finansies gedien en onder sy termyn het die metro se finansiële situasie merkbaar verswak.
In die eerste kwartaal van die 2025/26-boekjaar het Ekurhuleni uitstaande skuld van R32.9 miljard gehad, waarvan R4.6 miljard meer as 90 dae agterstallig is. Die invorderingskoers het tot 78.74% gedaal wat ver onder die teiken van 90% is.
Oortyduitgawes het R215 miljoen bereik en groot betalings aan diensverskaffers soos Eskom (R5.3 miljard), Rand Water (R706 miljoen) en Oos-Randse waterversorgingsmaatskappy (ERWAT) (R1 miljoen) bly uitstaande.
Hierdie syfers dui op ernstige fiskale druk en die VF Plus glo dat die metro se aanstellings in leierskapposisies eerder op meriete, prestasie en aanspreeklikheid gegrond moet wees.
Die party is teleurgesteld dat die ANC/EFF-koalisie met die steun van ActionSA en ander partye, die aanstelling goedgekeur het sonder voldoende openbare rekenskap.
Die VF Plus bevestig sy verbintenis tot goeie bestuur en sal aanhou druk uitoefen vir leierskap wat bevoeg, deursigtig en in staat is om stabiliteit te herstel.
Inwoners verdien nie politieke kompromieë nie, maar bekwame bestuur wat die metro uit sy huidige krisis kan lei.


