Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus waarsku teen onbeplande heffing vir beperkte busnetwerk

Die VF Plus het tydens ʼn raadsvergadering van die Ekurhuleni-metroraad gewaarsku dat die voorgestelde besigheidsplan vir die geïntegreerde openbare snelvervoernetwerk (IRPTN) ernstige finansiële gevolge vir inwoners kan inhou.

Dié plan, wat die Harambee-spoedbusnetwerk as kern het, is nie vooraf in die metro se 2025/2026-begroting of mediumtermyn-raamwerk (MTREF) vervat nie.

Volgens die dokument wat voor die raad gedien het, sal tot 5% van eiendomsbelasting teen 2030 aan die projek toegeken word – ’n bedrag van tot R325 miljoen per jaar.

Hierdie fondse word nie uitsluitlik vir die instandhouding van betrokke eiendomme gebruik nie, maar vloei in die algemene fiskus. Tog is geen bekostigbaarheidstudie of oorsigverslae aan die raad voorgelê nie, ten spyte van wetlike vereistes ingevolge die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (MFMA) en die Munisipale Stelselswet (MSA).

Die VF Plus het versoek dat die saak eers deur die tersaaklike oorsigkomitees vir finansies en vervoer, paaie en stormwater ondersoek word.

Die voorgestelde busroete dek slegs sekere stedelike gebiede, wat beteken dat inwoners in groot dele van die metro sonder enige diens steeds belasting sal betaal vir ’n projek waaruit hulle geen voordeel trek nie.

Die VF Plus eis ook duidelikheid oor die besteding van fondse onder die Harambee-vaandel. ’n Vorderingsverslag toon dat sowat R480 miljoen reeds tussen 2016 en 2024 aan die taxi-bedryf uitbetaal is as vergoeding vir inkomsteverliese, met ’n verdere R200 miljoen begroot vir 2025 tot 2027. Geen afsnydatum of duidelike betalingskedule is in die plan aangedui nie, wat kommer wek oor die volhoubaarheid van hierdie subsidies.

Intussen het die projek tot dusver net R11,8 miljoen in passasiersinkomste gegenereer teenoor jaarlikse uitgawes van meer as R90 miljoen.

Die VF Plus steun verbeterde openbare vervoer, maar dit is belangrik dat finansiële dissipline en gelyke voordeel vir alle inwoners prioriteit moet geniet.

Geen projek mag goedgekeur word sonder behoorlike begroting en oorsig nie, veral nie wanneer dit uit inwoners se eiendomsbelasting gefinansier word terwyl net ’n beperkte deel van die metro daarby baat vind nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.