Die VF Plus het tydens die jongste raadsitting van die Tshwane-metroraad die burgemeester, dr. Nasiphi Moya, versoek om dringend duidelikheid te verskaf oor die herklassifisering van landbouhoewes na residensieel.
Inligting van inwoners dui daarop dat verskeie kleinhoewes sonder behoorlike kommunikasie as residensieel geherklassifiseer is. Dié besluit hou verreikende finansiële, prosedurele en regsgevolge vir grondeienaars én die metro self in.
Die VF Plus het ’n reeks vrae aan burgemeester Moya gerig, waaronder:
• Hoeveel hoewes is in die huidige waardasiesiklus van “landbou” na “residensieel” geherklassifiseer?
• Watter kriteria is gebruik om bona fide landbouhoewes te herklassifiseer?
• Wat is die totale finansiële impak op die betrokke eienaars, individueel en gesamentlik?
• Is daar fisieke inspeksies uitgevoer voor herklassifisering, en deur wie?
• Is daar enige vorm van konsultasie met grondeienaars gedoen, buiten die statutêre beswaarproses teen die waardasierol?
Die VF Plus het ook gevra waarom die administrasie versuim het om te reageer op ’n Paia-aansoek wat die party se raadslid, Nick Pascoe, reeds op 6 Junie 2025 ingedien het.
Die aansoek is gemik op toegang tot dokumentasie rakende die herklassifiseringsproses.
Indien die metro nie van plan is om die versoekte inligting te verskaf nie, moet redes verskaf word vir die weiering.
Die party doen ’n dringende beroep op die metro om volle deursigtigheid te verseker.
Hierdie is nie bloot ’n tegniese aanpassing nie, maar raak bestaansmiddele, grondgebruikregte en die volhoubaarheid van kleinskaalse landboubedrywighede.
Die administrasie se stilswye is onaanvaarbaar.
Die VF Plus sal die saak noukeurig monitor en seker maak dat geraakte inwoners die antwoorde en aanspreeklikheid kry wat hulle toekom.


