fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus wens Onafhanklike Eksamenraad (BCVO ingesluit) en SACAI geluk met goeie uitslae – asem word opgehou vir departementele uitslae

Die Suid-Afrikaanse onderwyslandskap bevat drie instansies wat eksamens vir die Nasionale Seniorsertifikaat bedryf: Die departement van basiese onderwys deur middel van nege provinsiale departemente, die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) wat onafhanklike skole bedien en die Suid-Afrikaanse Omvattende Assesseringsinstituut (SACAI) wat by uitstek aanlyn-onderriginstansies bedien.

Die VF Plus wil die twee onafhanklike instansies gelukwens met hul goeie uitslae wat vandag bekendgestel is. Departementele uitslae word more vrygestel.

Terwyl die IEB van die land se duurste en mees prestigeryke skole bedien, kom verreweg nie alle IEB-leerders uit bevoorregte omgewings nie. Talle IEB-skole is afgeleë en worstel met sosio-ekonomiese probleme. Daarbenewens gebruik die Beweging vir Christelike Volkseie Onderwys (BCVO) ook die IEB se eksamendiens. Al wat die skole werklik in gemeen het, is hul onafhanklikheid en toewyding tot goeie onderwys.

In die lig hiervan is dit merkwaardig dat die IEB se sowat 13 000 kandidate ‘n slaagsyfer van 98,42% kon behaal met 89,3% wat met graadtoelating geslaag het.

Indien die BCVO se uitslae alleen beskou word, is ‘n 100% slaagsyfer behaal en alle kandidate kwalifiseer vir tersiêre studie.

SACAI bedien by uitstek onderwysinstellings wat aanlyn-onderrig bied. Hierdie instellings het nie beheer oor die alledaagse aktiwiteite van leerders nie en bied verskillende mates van ondersteuning.

Talle van hierdie leerders het na hierdie vorm van onderrig oorgeskakel nadat hulle tydens die grendelstaat met openbare onderwys agtergeraak het.

Selfs teen hierdie agtergrond kon SACAI daarin slaag dat die bykans 5 000 kandidate ‘n slaagsyfer van 72% behaal, met die meerderheid wat vir tersiêre onderrig kwalifiseer.

Intussen was die Gautengse premier en voormalige provinsiale LUR vir onderwys, mnr. Panyaza Lesufi, op 10 Januarie in die nuus omdat hy die aparte bekendmaking van SACAI en die IEB se uitslae veroordeel.

Die rede daarvoor is waarskynlik die feit dat hy reeds weet dat departementele uitslae sleg hierteen sal afsteek.

Departementele uitslae word jaarliks versterk deur skole waarvan die skoolbeheerliggame gehalte onderrig verseker. Dit gebeur dikwels nie danksy die staat nie, maar ten spyte daarvan.

Intussen kom nuwe berigte kort-kort na vore, van staatsonderwysers wat kla oor die omstandighede by merksentrums.

Op sommige plekke was daar geen voorsiening vir kragonderbrekings nie, met water wat tydens beurtkrag ook nie beskikbaar was nie. Dit is tekenend van ‘n departement wat nie behoorlike dienste kan lewer nie.

Die VF Plus wens elke leerder wat goeie uitslae behaal het daarmee geluk. Selfs die beste stelsel is afhanklik van leerders wat ook hulle bes doen.

Selfs diegene wat die jaar nie hulle senior sertifikaat kon behaal nie, word aangemoedig om weer te probeer. Hoewel matriek nie alles is nie, is dit die grondslag waarop verdere studie gebou word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.