Die VF Plus het die munisipale bestuurder van die Mbombela-plaaslike munisipaliteit (Mbombela/Nelspruit, Barberton, Hazyview, Kaapschehoop, Skukuza, Witrivier), mnr. Wiseman Khumalo, gevra om dringend in te gryp in Witrivier se waterkrisis.
Onvoldoende of geen watervoorsiening aan inwoners van die dorp en omliggende gebiede die afgelope ses weke is ‘n groot bron tot kommer vir die VF Plus.
Alhoewel beurtkrag ‘n bydraende faktor is met watervoorsiening, is die bestuur van waterbronne en -toevoer nie op ‘n aanvaarbare standaard nie.
Die munisipaliteit se gebrek aan beplanning en beheer oor waterbronne speel ‘n groot rol in die waterkrisis.
Tans tydens beurtkrag word geen water vanaf die Boschrand- en Phumlani-pompstasies na Witrivier se reservoirs gepomp nie.
Geen gebeurlikheidsplanne is in plek nie. Beloftes van kragopwekkers by hierdie stasies blyk ook net lippetaal te wees. Sprake van pyplyne wat onafhanklik van beurtkrag sal funksioneer, het ook geen vrugte gewerp nie.
Die VF Plus eis ook 'n ondersoek na die kwalifikasies en werksondervinding van mnr. Sipho Sibeko, algemene bestuurder van die munisipale tegniese departement, en of hy bekwaam is vir sy pos.
Die toegang tot skoon water is ‘n grondwetlike reg en dit is die munisipaliteit se plig om watervoorsiening aan gemeenskappe te verseker.
Die VF Plus sal voortgaan om druk op die munisipaliteit te plaas om skaars waterbronne behoorlik te benut tot voordeel van al sy inwoners.
Indien mnr. Khumalo nie reageer nie, sal die VF Plus 'n klag by die menseregtekommissie (MRK) indien.