Die VF Plus het gister die raadsvergadering van die Modimolle-Mookgophong-plaaslike munisipaliteit (Modimolle, Mookgophong (Naboomspruit), Vaalwater) verlaat nadat die ANC ʼn gefabriseerde aanstellingsbrief vir die waarnemende munisipale bestuurder, mnr. Patrick Shika, aan die raad voorgelê het.
Shika se sogenaamde aanstelling as waarnemende munisipale bestuurder volg op die skorsing van die munisipale bestuurder, mnr. Ben Thobela, op 30 Mei hangende ʼn interne ondersoek rakende moontlike korrupsie.
Die VF Plus het nie Thobela se skorsing gesteun nie omdat die verslag op baie kort kennisgewing aan die raad beskikbaar gestel is en daar moontlik politieke bymotiewe kan wees.
Die munisipaliteit kan net ʼn waarnemende munisipale bestuurder aanstel met die goedkeuring van die raad waarna dit verwys word na die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) wat die finale goedkeuring moet gee.
Die burgemeester, mnr. Aaron Sebolai, het Shika op 11 Junie in ʼn skrywe verwittig dat die LUR, mnr. Basikopo Makamu, sy aanstelling as waarnemende munisipale bestuurder nie goedkeur nie.
Volgens die LUR beskik Shika nie oor die nodige ervaring soos wetlik vereis word nie. Shika dien tans as die hoof van kommunikasie in die munisipaliteit.
Intussen het mnr. Shika wel sekere funksies verrig as waarnemende munisipale bestuurder omdat diensverskaffers en salarisse betaal moes word.
Tydens gister se raadsvergadering het die ANC egter ʼn gefabriseerde aanstellingsbrief, gedateer 1 Junie 2025 ter tafel gelê.
Die VF Plus het daarna die raad verlaat. Die party is van mening dat die munisipaliteit nie kan funksioneer sonder ʼn wettige munisipale of waarnemende munisipale bestuurder nie en distansieer hom van enige raadsbesluite wat hieruit mag voortspruit.


