Die VF Plus sal nie geboelie word om ʼn begroting van die Ekurhuleni-metro te steun wat die party reeds verwerp het nie.
Die VF Plus het reeds op Donderdag 31 Mei met ʼn raadsvergadering aangedui dat hy nie 2025/26-finansiële begroting, wat in Mei vanjaar goedgekeur is, sal steun nie.
Die begroting is ter herbevestiging aan die raad voorgelê omdat tariewe wat gedurende die begroting goedgekeur is, nou gehef sal word.
Die party is wel ten gunste van die afskaffing van tarief A2 van R109 wat grootliks vir huiseienaars geld en wat deel was van die begroting. Dié geld sou aangewend word vir kragtoevoer asook die onderhoud van die kragstelsel.
Inwoners van Tembisa het daarteen beswaar aangeteken en die burgemeester, mnr. Nkosindiphile Xhakaza, het onderneem om dit af te skaf.
Die party steun die skraping van die heffing omdat dit vanuit die staanspoor nooit deel van die begroting moes wees nie. Dit is strategies stil gehou van inwoners tydens die openbare deelnameproses.
Die VF Plus het reeds in Mei teen die oorspronklike begroting gestem om verskeie redes, waaronder uitermatige tariefverhogings, swak beplanning en ’n totale gebrek aan werklike openbare deelname.
Die ANC/EFF-koalisie se verwagting dat almal nou skielik moet saamstem met die meerderheid, is onaanvaarbaar en polities opportunisties.
Die mense van Ekurhuleni het genoeg gehad van begrotings wat deur die agterdeur kom. Hulle verdien deursigtigheid. Hulle verdien inspraak. Hulle verdien begrotings sonder verrassings en sonder politieke manipulasie.
Die VF Plus sal aanhou om op te staan teen magsmisbruik. Hy sal aanhou om daarop aan te dring dat begrotingsprosesse wettig, deursigtig en regverdig is en sal nie swyg wanneer die publiek se vertroue vertrap word nie.
Die party sal aanhou om hom te beywer vir die regte van Ekurhuleni se inwoners.


