Die Vryheidsfront Plus het vandag voor die Mangaung-metromunisipaliteit se kantore in Bloemfontein ‘n protesaksie oor die waterkrisis wat die stad beleef, gehou. Water is ‘n grondwetlike reg en die ANC-regering faal die inwoners van Suid-Afrika in hierdie verband as gevolg van onbevoegdheid. Meeste van die geaffekteerde areas het nie watertenks of –karre nie en is dus afhanklik van gekoopte water.
‘n Groep inwoners het bymekaargekom om hul misnoeë te kenne te gee. Die munisipale polisie, tesame met meer as twintig lede van die Suid-Afrikaanse Polisie (SAP) het egter binne sekondes opgedaag en protesgangers met arrestasie gedreig.
Wouter Wessels, onderleier van die VF Plus in die Vrystaat en lid van die Vrystaatse Wetgewer, het by hierdie geleentheid gesê dat dit onaanvaarbaar is en opmerklik is hoe vinnig die munisipaliteit en die SAP reageer as inwoners by die munisipaliteit se “huis” ‘n bedreiging van vreedsame protes bied; dit in teenstelling met die traagheid wat die ANC-regering toon om die waterkrisis voldoende aan te spreek.
Wessels het ook vroeër vandag ‘n dringende vergadering met die Vrystaatse LUR vir plaaslike regering, me. Mlamleli gehad. Die LUR het ingestem om ondersoek in te stel oor hoekom die munisipale infrastruktuur toekenning nie vir die vervanging van die waterpompe tydens die vorige finansiële jaar aangewend is nie. Sy het ook saamgestem dat die wyse waarop die vervangingsproses van die waterpompe geskied, aan hand van ‘n doeltreffende en kundige aksieplan moet geskied. Sy het aangedui dat haar departement so ‘n aksieplan tesame met die munisipaliteit sal opstel.
Die tekort aan watertenks in geaffekteerde areas is ook vandag met die LUR bespreek.
Die VF Plus het gister ‘n klag by die Verbruikerskommissie insake Mangaung-munisipaliteit se versuim om die waterkrisis aan te spreek, ingedien. Die party gaan hom ook wend tot die Openbare Beskermer en die leier van die VF Plus, dr. Pieter Mulder, vergader volgende week met die minister van Omgewingsake en Waterwese, Me. Edna Molewa oor die waterkrisis.
WOUTER WESSELS
082 674 6670