fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus twyfel in geloofwaardigheid van Emfuleni se ruimte-ontwikkelingsraamwerk

Die VF Plus betwyfel die geloofwaardigheid van die jongste ruimtelike-ontwikkelingsraamwerk (2023-2024) van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging).

Die inligting oor dié beleid, wat op die munisipaliteit se webblad verskyn, is waarskynlik nie korrek nie.

Op die webblad word aangedui dat Urban Dynamics Gauteng die ontwikkelingsraamwerk saamgestel het in opdrag van die Emfuleni-munisipaliteit. Die direkteur van Urban Dynamics Gauteng, mnr. JG Busser, ontken egter dat sy maatskappy betrokke was by die hersiening of samestelling van die ontwikkelingsraamwerk vir 2023-2024.

Urban Dynamics het wel die ontwikkelingsraamwerk in 2019-2020 hersien en dit is volgens Busser identies aan die dokument wat nou op die webtuiste van die munisipaliteit verskyn.

Urban Dynamics Gauteng het aanvanklik die ontwikkelingsraamwerk vir 2017-2025 voorberei. Die dokument is in 2017 deur die munisipaliteit goedgekeur.

Die maatskappy het nie weer aansoek per tender gedoen om die volgende ontwikkelingsraamwerk saam te stel nie.

Indien die 2023-2024-ontwikkelingsraamwerk hersien was, sou die beplande derde lughawe of die megastad langs die Vaalrivier waarskynlik hierby ingesluit gewees het.

Die Emfuleni-munisipaliteit is waarskynlik besig om met iemand anders se kalwers te ploeg. Dit is nie aanvaarbaar nie. Inwoners van Emfuleni het die reg tot ʼn goedgekeurde dokument wat alle relevante inligting bevat.

Die VF Plus het die munisipale bestuurder, mnr. April Ntuli, versoek om dadelik die ontwikkelingsraamwerk van die webtuiste te verwyder om ʼn moontlike regsaksie teen die munisipaliteit te vermy.

Die doel van ʼn ruimtelike-ontwikkelingsraamwerk is om beplanning, ontwikkeling en die bestuur van grondgebruik in ʼn munisipaliteit te verduidelik.

Die plan fokus ook op paaie, industriële-, landelike, sosio-ekonomiese- en infrastruktuurontwikkeling. Klem word ook gelê op die behoud van oop ruimtes en die implementering van die ontwikkelingsraamwerk.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.