Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus eis dat Noordwes tot rampgebied verklaar word na verwoestende veldbrande

Die VF Plus eis in ʼn skrywe aan die waarnemende premier in Noordwes, Nono Maloyi, dat Noordwes ingevolge rampbestuurswetgewing formeel tot rampgebied verklaar word.

Die provinsie het onlangs onder verwoestende veldbrande deurgeloop wat reeds meer as 800 000 hektaar weiveld- en gewasse vernietig het.

Honderde stuks vee en wild het in die slag gebly. Enorme skade is ook aan landbou- en kraginfrastruktuur aangerig. Plaaswonings en werkersbehuising is ook tydens die brande vernietig.

Boere, plaaslike gemeenskappe en brandverenigings was grootliks op hulself aangewese om die brande in bedwang te bring en skade te beperk.

Verskeie brandverenigings het teenoor die VF Plus hul frustrasie uitgepreek oor die brandbestrydingsowerhede in die provinsie se skynbare onvermoë en oënskynlike onwilligheid om met die verenigings en boere saam te werk om brandbestryding beter te koördineer en die aanwending van skaars hulpbronne doeltreffend te benut.

Kommunikasie tussen geraakte boere en rampbestuursowerhede was bykans onmoontlik weens oproepe na noodnommers wat eenvoudig nie beantwoord is nie.

Die ekonomiese en maatskaplike gevolge van hierdie reeks brande op die inwoners van Noordwes is byna onberekenbaar.

Die VF Plus eis in die skrywe aan die premier dat:

• Die provinsiale regering dringend ʼn ondersoek doen om die omvang van die skade te bepaal en aankondig watter stappe geneem gaan word om die geraakte inwoners en gemeenskappe by te staan.
• ʼn Meganisme bestaande uit gemeenskapsorganisasies soos brandverenigings en die provinsiale rampbestuursowerhede ingestel word om gesamentlik beplanning te doen en koördinering- en kommunikasiestrukture te skep om veldbrande doeltreffend te voorkom en te bestry.
• Genoegsame fondse bewillig word om só ʼn meganisme en kommunikasiestruktuur te befonds.

Dit is noodsaaklik dat die ANC-beheerde provinsiale regering in Noordwes sy plig en verantwoordelikheid teenoor die welstand van sy inwoners en gemeenskappe besef en nakom.

Noordwes kan nie langer ly onder die ANC-regering se nalatigheid en skynbare onverskilligheid jeens die veiligheid en belange van die inwoners nie.

Noordwes verdien beter as die ANC.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.