Ná die verwoestende brande wat dele van Phalaborwa in puin gelê het die afgelope naweek, het die VF Plus ʼn dringende skrywe aan die Tzaneen-plaaslike munisipaliteit (GTM) se direkteur vir ingenieursdienste, me. Olga Tshisevhe, gerig en antwoorde geëis rondom brandkrane wat by hoë brandrisiko’s in Tzaneen beskadig of verseël is.
Tzaneen gaan gebuk onder gereelde waterbeperkings en watertekorte.
Besorgde inwoners het VF Plus genader aangaande die ʼn brandkraanprobleem by ʼn houtverwerkingsaanleg, Tzaleba Mills, in die ou industriële gebied.
Die krane is verseël, gebreek of beskadig en sal veroorsaak dat die brandweer nie genoeg water sal hê om ʼn brand te blus indien dit daar uitbreek nie.
Die party het die perseel besoek en foto’s van die brandkrane geneem.
Agter dié aanleg is die munisipaliteit se informele behuisingskema, die Talana-hostel, waar honderde wonings vernietig sal word indien ‘n ernstige brand uitbreek.
Die party eis daarom antwoorde op die volgende vrae:
- Wie is verantwoordelik vir die beskadiging/seël van die brandkrane?
- Is die munisipaliteit bewus van die toestand van hierdie brandkrane?
- Sal die brandkrane herstel of vervang word, en wanneer?
- Word roetine-inspeksies uitgevoer deur die betrokke departement om te voorkom dat brandkrane beskadig word?
Die party sal druk uitoefen op die Tzaneen-munisipaliteit om te verseker dat die munisipaliteit aan rampbestuurswetgewing voldoen om inwoners te beskerm teen brande.