Die VF Plus het verlede Vrydag ‘n poging van die ANC in die JB Marks-plaaslike munisipaliteit om ‘n nuwe “aansuiweringsbegroting” deur die munisipale raad te stoomroller, met sy teenstem gestuit.
Die begroting is in die raad voorgelê vir goedkeuring sonder enige konsultasie met die opposisie. Die VF Plus het daarteen beswaar aangeteken.
Die party het ook uitgewys dat miljoene rand in hierdie begroting skielik toegewys is aan ydelheidsprojekte soos die bou van sportstadions. Dít terwyl Potchefstroom en Ventersdorp se basiese dienste en infrastruktuur steeds hand oor hand verval.
Dit is skandelik dat die ANC in JB Marks poog om noodsaaklike fondse wat geoormerk is om onder meer die water-en kraginfrastruktuur in Ventersdorp te herstel, te kaap vir populistiese projekte om verlore aansien te probeer herwin.
Die VF Plus sal bly stry vir ‘n verantwoordelike en korrupsievrye munisipaliteit wat die inwoners van Potchefstroom en Ventersdorp se belange vooropstel.


