Die VF Plus het hom die argwaan van lede van die ANC-regerende koalisie in die Johannesburgse metroraad op die hals gehaal deur beswaar aan te teken teen die stad se aansuiweringsbegroting
Die begroting is byna tydens gister se raadsvergadering ter tafel gelê.
Dié item is die vorige aand ná agtuur eers op die sakelys geplaas.
Nadat die VF Plus die speaker, me. Margaret Arnolds, daarop gewys het dat die voorgestelde wysigings nooit voor die oorsigkomitee oor finansies gedien het nie, het sy ‘n regsmening ingewin en die item van die sakelys verwyder.
Te oordeel na die ander items op die sakelys, het die regerende koalisie waarskynlik probeer om die agteruitgang van die stad se finansies onder die mat in te vee.
Die eerste vier items op die sakelys was artikel 71-verslae vir die tydperk van September 2025 tot Desember 2025. Hierdie verslae word ingevolge die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA) opgestel, en is veronderstel om deur die oorsigkomitee vir finansies bespreek te word.
Die verslae wys dat die stad se finansies in so ‘n mate agteruit gegaan het dat daar in November ‘n korttermynlening van R3 miljard aangegaan moes word om uitstaande rekenings te betaal.
Die raad het geen goedkeuring daarvoor gegee nie en die terme en voorwaardes van die lening is onbekend.
Tans is die invorderingskoers van uitstaande rekeninge op ‘n afwaartse trajek. Dit was in November 2025 slegs 80.3%.
Die verliese by City Power – vir die ses maande tot einde Desember 2025 – beloop ‘n yslike R4 miljard, terwyl Johannesburg Water se verkope meer as R300 miljoen minder was as wat begroot is, terwyl wateraankope meer as R300 miljoen oor begroting was.
Die VF Plus sal hom nie laat boelie of mislei wanneer die regerende koalisie Johannesburg se beroerde finansiële posisie probeer verdoesel nie en sal aanhou om onverskrokke sy oorsigrol te vervul.


