Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus steun wantrouemosie in Lesufi

Die VF Plus het vandag die mosie van wantroue in die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, gesteun.

Die besluit was gegrond op die Lesufi se ongrondwetlike aanstelling van polisieringsbeamptes nadat die VF Plus hom gewaarsku het om seker te maak die projek voldoen aan alle grondwetlike en ander voorskrifte.

Tydens die loodsing van die projek het die VF Plus skriftelike vrae in dié verband aan Lesufi gestel waarna hy geantwoord het dat hy ingevolge die Grondwet optree en dat alle regsvoorskrifte nagekom is.

Die onlangse bevinding van die openbare beskermer (OB) dat die projek inderdaad ongrondwetlik is, staan in skrille kontras met Lesufi se antwoord. Op hierdie beginsel alleen moes die VF Plus die mosie steun.

Daar is natuurlik ook ‘n geskiedenis van wanadministrasie onder die vorige ANC-regerings in Gauteng waarvan die Life Esidimeni- en Hoërskool Driehoek-tragedies, die Tembisa Hospitaal-korrupsie en moord op die fluitjieblaser Babita Dekoran maar enkele voorbeelde is.

Die VF Plus is egter ook nie gelukkig oor die logika en strategiese waarde van die DA-mosie nie.

Eerstens maak die DA se bring van die mosie van wantroue teen Lesufi nie sin nie, aangesien die DA juis Lesufi se nominasie as premier gesekondeer het net ná die 2024-verkiesing. Die DA is juis een van die grondoorsake dat Lesufi weer as premier van Gauteng verkies is.

Tydens die DA se sekondering van Lesufi as premier, was die DA daarvan bewus dat daar ‘n geskiedenis van wanadministrasie onder sy leiding as LUR van onderwys en later as premier plaasgevind het. Daarom maak dit nie sin om hom nou skielik as premier te probeer verwyder op grond van ‘n nuwe OB-bevinding nie.

Verder is die mosie gestroop van enige strategiese waarde, aangesien die DA van meet af geweet het hy sou nie genoeg stemme in die wetgewer kon monster om Lesufi te verwyder nie. ‘n Mosie van wantroue teen die premier moet gebruik word indien daar ‘n realistiese kans is om hom uit die stoel te lig.

Daar moet in gedagte gehou word dat ‘n mislukte mosie soos dié die teenoorgestelde effek kan hê deur Lesufi te versterk weens sy groeiende beeld as ‘n polities robuuste sterkman.

Die VF Plus het tydens die debat oor die mosie aangedui dat dit dien in ‘n tyd waar die inwoners van Gauteng ernstige sosio-ekonomiese probleme ervaar met ‘n stagnerende ekonomie, rekordhoë werkloosheid en groeiende armoede.

In hierdie konteks het kiesers verlede jaar in Gauteng aangedui dat hulle geen party alleen vertrou om ‘n regering te vorm nie, maar eerder verwag dat partye saam sal werk om op ‘n sinvolle wyse werklike sosio-ekonomiese verbetering teweeg te bring.

Die poging tot die samestelling van ‘n regering van provinsiale eenheid (RPE) geskoei op die bloudruk van die regering van nasionale eenheid (RNE) tussen die ANC en DA het ongelukkig gefaal wat weer die ANC spasie gegee het om ‘n linkse pro-sosialistiese koalisieregering saam te stel.

Die VF Plus sal soos altyd sy oorsigrol oor die provinsiale regering vervul deur geldige kritiek te lewer waar nodig en deur strategiese inisiatiewe wat sal lei tot die verbetering van die lewe van die inwoners van Gauteng.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.