Die VF Plus verwelkom die besluit van die ouditeur-generaal (OG) om die land se eerste sertifikaat van skuld (CoD) ten bedrae van R4,6 miljoen uit te reik teen die munisipale bestuurder van die Ngaka Modiri Molema-distriksmunisipaliteit, Allen Losaba.
Hierdie stap bevestig die VF Plus se herhaalde waarskuwings dat finansiële beheer, gevolgbestuur en politieke aanspreeklikheid in Noordwes-munisipaliteite feitlik heeltemal in duie gestort het.
Dit is belangrik dat hierdie skynbare loodsprojek ook uitgebrei word na munisipaliteite landswyd.
Die OG se bevindinge toon aan dat die munisipale bestuurder versuim het om wesenlike finansiële verliese te verhaal wat voortspruit uit gemanipuleerde watertenker-eise ondanks herhaaldelike waarskuwings, aanbevelings en bindende regstellende stappe.
Dit is nie ’n geïsoleerde geval nie, maar eerder deel van ’n diepgewortelde kultuur van strafloosheid weens swak politieke leierskap.
Die OG het die uitvoerende burgemeester, Khumalo Molefe, nou formeel in kennis gestel dat sy wetlik verantwoordelik is om die bedrag van die munisipale bestuurder te verhaal.
Vir te lank het burgemeesters en uitvoerende komitees in Noordwes “administratiewe prosesse” voorgehou om hulself te probeer verontskuldig en aanspreeklikheid te ontduik. Die OG se optrede het nou daardie skuiwergat toegestop.
Alhoewel die OG se ingryping ‘n positiewe eerste stap is, is dit belangrik dat dit opgevolg word met ‘n meer omvattende ingrypingsproses geskoei op die model wat in die Ditsobotla-plaaslike munisipaliteit geïmplementeer is.
‘n Multidissiplinêre ingrypingspan bestaande uit verskeie departemente en wetstoepassingsagentskappe is vroeër in Ditsobotla ontplooi om doeltreffende optrede teen korrupsie en wanbestuur te verseker
Inwoners van die Ngaka Modiri-distriksmunisipaliteit kan nie langer die prys betaal vir die optrede van korrupte elemente in ANC-beheerde munisipaliteite nie.
Watertenkwaens het veral ’n multimiljoen rand-geleentheid vir korrupsie geword, iets waarop die VF Plus reeds lank deur skriftelike vrae, komiteewerk en oorsigbesoeke wys.
Die VF Plus sal aanhou stry vir ’n deursigtige, aanspreeklike en korrupsievrye regering.


