fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus steun Tshwane-metro se aansoek om Eskom-skuldverligting

Die VF Plus steun die veelparty-koalisieregering in die Tshwane-metro se aansoek aan die nasionale tesourie om skuldverligting vir Eskom-skuld te verkry.

Die party steun ook die voorwaardes wat die koalisieregering gestel het om die metro se finansiële belange te beskerm.

Die metro se aansoek om Eskom-skuldverligting vind plaas op grond van die finansiële hulpskema wat die minister van finansies, Enoch Godongwana, in sy 2023-begrotingstoespraak bekendgestel het.

Hiervolgens kan munisipaliteite by die tesourie aansoek doen om skuldverligting op agterstallige Eskom-skuld, rente en boetes op voorgeskrewe voorwaardes.

Die kernvoorwaardes sluit in die behaal van ʼn befondsde begroting, die gebruik van koste-reflekterende tariewe, die optimisering van inkomsteverhaling en ʼn fokus op die lewering van noodsaaklike dienste.

Indien die voorwaardes nie nagekom word nie, sal die tesourie die skuldverligting ophef en mag Eskom voortgaan met sy normale skuldbestuurbeleid wat die oplê van boetes en regstappe kan insluit. Die tesourie sou dan ook ondersoeke teen amptenare kan loods vir moontlike finansiële wangedrag en strafregtelike oortredings.

Teen hierdie agtergrond en weens die metro se enorme skuld van R1,7 miljard aan Eskom, steun die VF die aansoek.

Die VF Plus sal egter net instem tot skuldverligting indien die volgende beginsels met betrekking tot die tesourie se voorwaardes beding kan word:

  1. Die voorwaarde dat die metro sy oorhoofse lopende-rekening by Eskom op datum moet hou moet geskrap word aangesien die metro se finansies wesenlik verswak is weens die talryke onwettige kragaansluitings en die omvangryke wanbetaling van kragrekeninge in verskeie gemeenskappe.
  2. Dat die metro se leningsvermoë nie ingeperk word nie aangesien dit die metro se finansiële posisie verder sal verswak en negatief inwerk op dienslewering en infrastruktuur-ontwikkeling. Die metro is veral afhanklik van die kapitaalmarkte vir lenings om infrastruktuur te befonds.
  3. Dat weggedoen word met die straf dat indien die voorwaardes van die skuldverligting nie nagekom sou word nie, die metro moontlik sy Nersa-lisensie om self krag te voorsien kan verloor. Die verlies van die lisensie sal ʼn wesenlike impak op die metro se inkomste hê aangesien kragvoorsiening die metro se hoofbron van inkomste is.

Die VF Plus beskou die genoemde beginsels as uiters belangrik om die Tshwane-metro se finansies te beskerm en gesonde finansiële bestuur toe te pas.

Geen skuldverligting van die tesourie sal van enige waarde wees indien dit nie deel vorm van die finale ooreenkoms nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.