Die Vrystaatse regering het ʼn verantwoordelikheid om boere wat die afgelope week grootskaalse verliese weens brande gely het, by te staan.
Die VF Plus eis in ʼn brief aan die Vrystaatse premier, Mxolisi Dukwana, dat die provinsie nou tot rampgebied verklaar moet word om broodnodige hulp aan boere te gee.
Die Rampbestuurswet gee aan die premier die bevoegdheid om ʼn provinsie tot rampgebied te verklaar sodat provinsiale hulpbronne beskikbaar gestel kan word om diegene wat geraak is, by te staan.
Terwyl burgerlike organisasies reeds beplan om geraakte boere met onder meer voer te help, is dit uiters noodsaaklik dat die provinsiale regering homself ook verbind tot bystand aan boere.
Boere moet direk by hierdie provinsiale hulp baat vind. Dit is nie genoeg om bloot kospakkies aan plaaswerkers uit te deel nie. Boere gaan nou op vele terreine ondersteuning benodig.
Die VF Plus sal ook die Vrystaatse wetgewer versoek om die ontstaan, voorkoming en hantering van die veldbrande te ondersoek. Brandstigting en die owerhede se versuim om staatsgronde teen brande wat versprei te beskerm, is van die oorsake wat ondersoek moet word.
Voedselsekuriteit kan nie net lippediens deur die ANC en die premier bly nie. Dit sal net ʼn werklikheid word indien boere wat die provinsie se voedselmandjie vol hou, beskerm word.