Die VF Plus steun die Tshwane-metro se nuwe Probleemgeboue- en Eiendomsbestuursverordening as ’n noodsaaklike instrument om die middestad en ander vervalle gebiede te rehabiliteer.
Die metro se middestad verval weens gekaapte geboue en misdadige neste wat eiendomswaardes vernietig en inwoners se lewe bedreig.
Die VF Plus wil beklemtoon dat wetsgehoorsame belastingbetalers ’n munisipaliteit verdien wat stedelike verval daadwerklik aanpak.
Hierdie verordening vind die regte balans: Dit gee die stad genoeg tande om teen nalatige huurbase op te tree terwyl grondwetlike eiendomsreg streng gerespekteer word.
Alle uitsettings moet volgens die PIE-wet (Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting) geskied en kan slegs met ’n hofbevel uitgevoer word. Administratiewe ingryping bly gebonde aan die Grondwet.
Die VF Plus steun die verordening omdat dit nasionale wetgewing versterk, maar waarsku dat daar ’n duidelike onderskeid getref moet word tussen:
• Georkestreerde misdaad (soos gekaapte geboue), waar die staat die slagoffer-eienaar se regte moet herstel en strafregtelike vervolging moet prioritiseer; en
• Verlate of vervalle geboue, wat gestruktureerde, wetlike heraanwending vereis.
Die party lê klem daarop dat billike vergoeding vir eienaars wat slagoffers van misdaad is, duideliker gereguleer moet word, moontlik deur nasionale wetgewende wysigings.
Die VF Plus sien hierdie verordening as ’n positiewe stap na ’n veiliger en meer leefbare Tshwane, mits hofprosesse en eiendomsregte te alle tye gehandhaaf word.


