Adv. Gerrie Nel se aanstelling by AfriForum is duidelik ‘n poging om te keer dat strafregtelike oortreders om politieke redes die gereg ontduik, sê dr. Corné Mulder, die VF Plus se woordvoerder oor justisie.
Hy sê die Suid-Afrikaanse regstelsel laat private vervolging toe in gevalle waar die staat in spesifieke gevalle weier om te vervolg (nolle prosequi).
“Voorbeelde in hierdie opsig kan moontlik die staatspresident self en mense soos Julius Malema insluit.
“Dit is nogtans jammer dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) ‘n baie senior persoon met soveel kundigheid en ervaring soos Gerrie Nel verloor het. In Suid-Afrika is ‘n nypende tekort aan sulke ervare mense.
“AfriForum kan egter nou deur Nel hierdie kundigheid aanwend om private vervolging in te stel teen mense wat andersins weens politieke konneksies vervolging vryspring.
“Die VF Plus sou graag wou sien dat dit wel die geval is en sal sy volle samewerking in die proses gee,” sê dr. Mulder.
Kontaknommers: 083 626 1497 / 083 419 5403