Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus: Stad Kaapstad se ontkenning van 10 000-eenheid planne in Vishoek blatant misleidend en oneerlik

Die VF Plus besit onweerlegbare bewyse dat die bou van 10 000 laekoste-behuisingseenhede wel ter sprake is in die DA-beheerde Stad Kaapstad se Masiphumelele-uitbreidingsbeplanning in Vishoek.

Hierdie syfer vorm deel van die Stad se konsep-Masiphumelele en plaaslike ruimtelike ontwikkelingsraamwerk (LSDF) en het so op die Stad se eie webwerf verskyn.

Die VF Plus het verlede week in ‘n mediaverklaring met die opskrif “VF Plus eis volhoubare behuisingsoplossings vir Kaapstad – nie skadelike oorontwikkeling wat belastingbetalers straf nie” oor die aangeleentheid gereageer.

‘n Golf van verontwaardiging heers die afgelope paar weke in Vishoek oor die uitbreiding.

Ná die verklaring van die VF Plus het mnr. Eddie Andrews, die Stad se adjunk-burgemeester en burgemeesterskomiteelid vir ruimtelike beplanning en omgewing, in ‘n artikel in die Cape Argus die syfer ontken (City of Cape Town denies plans for 10 000 low cost-housing units in Fish Hoek; 24 November 2025)

Hy sê onder meer: “Die bewering dat 10 000 laekoste-behuisingseenhede vir Vishoek beplan word, is ongegrond. Dit is ‘n doelbewuste poging om inwoners te mislei”.

In die artikel word die VF Plus-verklaring valse bangmaakpraatjies of “fear mongering” genoem.

Ironies genoeg het mnr. Andrews self in ‘n artikel oor die Vishoek-uitbreiding op 17 Augustus in die regeringspublikasie SAnews (Have your say on Masiphumelele development plan) die syfer 10 000 pertinent genoem.

Hy skryf onder meer: “Om die toekomstige behuisingsbehoeftes van meer as 10 000 eenhede aan te spreek.” (Addressing the future housing need of over 10,000 units.)

Ook: “Ernstige oorbevolking (in Masiphumelele) met hoë digtheid en ‘n groeiende agterstand in die voorsiening van maatskaplike geriewe en dienste. Die geraamde toekomstige behuisingsbehoefte is byvoorbeeld gelykstaande aan meer as 10 000 eenhede.”

Vir die VF Plus is dit baie duidelik wat hiermee bedoel word.

Die volledige konsep-dokument (LSDF) waarop die syfer 10 000 in beplanning tot 2035 aangedui word, is intussen van die Stad se webwerf verwyder. Kopieë is wel deur die publiek gemaak en is ook in die VF Plus se besit.

In afdeling 2 van die LSDF staan onder meer:

“Die huidige geraamde behoefte aan bykomende behuising is ±6000 (5972) eenhede, en met die verwagte steeds vinnige groei, word beraam dat ‘n verdere ±5000 (4907) eenhede teen 2035 benodig sal word. Dit is ‘n toekomstige behuisingsbehoefte van meer as 10 000 eenhede.”

Dit is wat mnr. Andrews nou in die media noem ongegronde bewerings en ‘n doelbewuste poging om inwoners te mislei.

Hierdie optrede van die Stad is niks minder nie as ’n blatant oneerlike poging om self die publiek te mislei oor die Stad se eie, amptelike beplanning.

Die inwoners van Vishoek, Kommetjie, Noordhoek, Sun Valley en omliggende gebiede verdien die waarheid – nie intimidasie, misleiding en media-ontkennings nie.

Die VF Plus eis dat alle tersaaklike dokumente weer op die Stad se webwerf geplaas word, dat die Stad openlik erken wat beplan word en dat ’n eerlike gesprek met die gemeenskap gevoer word voordat enige verdere stappe met die ontwikkeling geneem word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.