Die VF Plus het onlangs 60 geskenkte sonkragligte aan inwoners van die Tweedypark-tehuis vir bejaardes in Brakpan oorhandig nadat baie van die ligte wat die party reeds geskenk het, gesteel is.
Dit is die tweede keer dat die VF Plus in samewerking met ʼn donateur ingryp nadat kwesbare inwoners wat in kothuise in Tweedypark woon, in die donker gelaat is deur misdaad wat rondom die kompleks toeneem.
In Oktober het die VF Plus met die hulp van ondersteuners ‘n gemeenskap-uitreikgeleentheid by Tweedypark aangebied en sonkragligte vir inwoners geïnstalleer.
Hierdie inisiatief het lig en veiligheid na die area gebring.
Na die diefstal het dit duidelik geraak dat bykomende beligting dringend nodig was en ʼn sonkraglig is aan elke kothuis voorsien.
Lede van die party sal Woensdag die tehuis besoek en inwoners help wat nie self hul lig kan installeer nie.
Hierdie soort misdaad skep vrees onder die mees kwesbare lede van die gemeenskap en beklemtoon die voortdurende mislukking van die Ekurhuleni-metro om ʼn veilige omgewing vir inwoners te skep.
Die VF Plus is daartoe verbind om alles in sy vermoë te doen om die waardigheid en veiligheid van bejaardes te verseker.


