Die VF Plus het vandag in die Gautengse wetgewer aan premier Panyaza Lesufi voorgestel dat die huidige patrolleerder-dilemma, die sogenaamde AmaPanyaza, op ’n grondwetlike en volhoubare wyse opgelos word.
Dit volg nadat die openbare beskermer (OB) onlangs bevind het dat die program buite bestaande regulasies en ‘n wetlike raamwerk ingestel is en nadat Lesufi ’n mosie van wantroue daaroor oorleef het.
Tydens ’n mondelinge vraag vandag aan die premier of hy in beginsel die moontlike instelling van ’n provinsiale Gautengse Wet op Gemeenskapsveiligheids-ondersteuning sal steun, het hy aangedui dat hy die VF Plus-voorstel verwelkom en dit sal oorweeg.
Die voorgestelde wet het ten doel om ’n Gautengse Gemeenskapsveiligheid-ondersteuningsdiens binne die departement van gemeenskapsveiligheid te skep as ‘n formele, wetlik verankerde struktuur wat misdaadvoorkoming, openbare veiligheid en wetstoepassing op ’n grondwetlike wyse sal ondersteun.
Die VF Plus wil beklemtoon dat hierdie diens die polisie én bestaande munisipale polisiedienste moet aanvul, nie vervang nie.
Só word ’n duidelike, wettige mandaat geskep wat die huidige patrolleerders se werksaamhede in lyn bring met die Grondwet, nasionale wetgewing en die Handves van Regte.
Die VF Plus het ook gevra of die premier die volledige wetskrywende proses sal steun, insluitend openbare deelname, portefeuljekomitee-toesig en streng wetlike oorweging soos voorgeskryf deur die reëls van die Gautengse wetgewer.
Die VF Plus is van mening dat slegs ’n deursigtige, regsgegronde proses die provinsie sal red van verdere regsonsekerheid en duur litigasie.
Die huidige patrolleerdersmodel is onvolhoubaar, wetlik kwesbaar en skep valse verwagtinge vir jongmense wat sonder behoorlike opleiding en beskerming na gevaarlike situasies gestuur word.
Die nasionale regering se beleid van sentralisme benadeel en beperk die vermoë van provinsies. ‘n Gautengse provinsiale Wet op Gemeenskaspondersteuning kan as voorbeeld dien oor hoe provinsies hul veiligheidsuitdagings ondersteunend tot die polisie kan aanspreek.
Die VF Plus sal voortgaan om die saak met vasberadenheid te stuur om ’n oplossing te bied wat veiligheid verhoog, grondwetlikheidsvereistes nakom en werklike gemeenskapsvertroue herstel.


