fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus soek omvattende antwoorde oor stand van brandweer in JB Marks

Die VF Plus het in ʼn skrywe aan die speaker van die ANC-beheerde JB Marks-munisipale raad, me. Moithoesi Dassie, geëis dat die munisipaliteit omvattend verslag doen oor die stand van die brandweerdiens in JB Marks.

Die brief is gerig ingevolge die munisipale ordereëls wat die munisipale raad verplig om die saak tydens die volgende gewone raadsvergadering te hanteer.

Ernstige gebreke in die munisipaliteit se vermoë om doeltreffende brandvoorkoming- en bestryding in die munisipale gebied te verseker, het sedert die reeks veldbrande rondom Potchefstroom en Ventersdorp in Augustus aan die lig gekom.

Die ernstige brand gister in die wandellaan in die Potchefstroomse middedorp wat ʼn sakeperseel en woonstelle verwoes het, het weereens die noodsaak vir dringende optrede belig.

Die VF Plus het in die skrywe van 12 September verder uitgelig dat ʼn gebrek aan toerusting en die swak instandhouding van bestaande toerusting ʼn bedreiging vir beide die gemeenskap en munisipale brandweerpersoneel inhou.

Die feit dat daar slegs twee werkende brandweerwaens beskikbaar is om die hele JB Marks-munisipale gebied te bedien, spreek vanself.

Tydens die vroeëre veldbrande was dit ook duidelik dat gebrekkige samewerking, kommunikasie en koördinering tussen die brandweerowerhede en brandverenigings, doeltreffende brandbestryding verder bemoeilik het. Boere en plaaslike gemeenskapslede was grootliks op hulself aangewese.

Die feit dat Potchefstroom ook die tuiste van onvervangbare nasionale kulturele skatte en geboue is, plaas ʼn verdere verantwoordelikheid op die munisipaliteit om toe te sien dat sy brandbestrydingsvermoë prioriteit geniet.

In dié opsig wil die VF Plus sy dank uitspreek teenoor die brandweerpersoneel wat gister met hul professionele optrede verhoed het dat die brand in die middedorp verder versprei en gedenkwaardighede verwoes. Dít ten spyte van hul gebrek aan toerusting en hulpbronne.

Die VF Plus sal bly stry teen die ANC-munisipaliteit se skynbare onverskillige houding jeens die beskerming van inwoners se lewens, eiendom en kulturele skatte.

Die inwoners van Potchefstroom en Ventersdorp verdien beter as die ANC.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.