fbpx
Vryheidsfront Plus

EFF-studente blokkeer wit studente se toegang tot UP-kampus: VF Plus vra ondersoek en wys studente op hul regte

Die VF Plus het vandag ʼn brief aan die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee vir hoër onderwys, wetenskap en innovering, me. Nompendulo Mkatshwa, gestuur om te vra dat voorvalle van rassisme en intimidasie op die Hatfield-kampus van die Universiteit van Pretoria (UP) deeglik ondersoek word.

Aanduidings is dat ontevredenheid in die eerste week van September ontstaan het toe die EFFSC se veldtog vir die studenteraadsverkiesing volgens party studente ontwrigtend en intimiderend was.

As gevolg van hierdie veldtog is die EFFSC se kandidate gediskwalifiseer en kon nie sitting op die studenteraad neem nie.

Toe klasse op 25 September na ʼn kort reses hervat is, het die EFFSC ʼn optog teen sogenaamde rassisme geadverteer. Die optog het op Dinsdag 26 September van die Loftus Park-winkelsentrum na die Hatfield-kampus plaasgevind.

Met die aankoms by die kampus het studente in die drag van die EFFSC hekke versper en wit studente verhinder om die kampus te betree of te verlaat. Betogende studente het slagspreuke teen AfriForum-jeug uitgeroep.

Individuele studente, ongeag hul verbintenis tot AfriForum of enige ander organisasie, is rondgeruk en gewaarsku om nie die kampus te betree nie.

Betogende studente was te min om alle hekke te bewaak, sodat sommige wit studente wel klasse kon bywoon en huis toe kon gaan.

Hierdie optrede is op enige tyd verwerplik, maar soveel te meer aan die einde van die akademiese jaar. Dit is moontlik om in hierdie stadium ʼn hele jaar se werk in gevaar te stel.

Die VF Plus maan wit studente tot kalmte, terwyl hulle in ag neem dat hulle volgens artikel 12 van die Suid-Afrikaanse Grondwet op vryheid en veiligheid van persoon en vryheid tot liggaamlike en sielkundige integriteit geregtig is.

Hulle is ook gemeenregtelik geregtig om hulself, hul eiendom en medemens te beskerm.

Die VF Plus se versoek is dat die portefeuljekomitee die UP se bestuur, EFFSC en AfriForum-jeug uitnooi om te verduidelik wat tot hierdie onaanvaarbare optrede gelei het.

Dit is noodsaaklik dat universiteite wat stabiel is en hoogstaande onderrig verskaf, daarmee kan voortgaan.

Intussen is dit verstaanbaar dat al hoe meer studente en voornemende studente private universiteite soos Akademia oorweeg. Hoër onderwys wat deur die staat verskaf word, lyk of dit toenemend aan hierdie soort ontwrigting onderhewig is.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.