Die VF Plus dring daarop aan die Ekurhuleni-metro inwoners ingelig hou oor onverwagte kragonderbrekings wat hulle raak.
ʼn Brand het nege dae gelede by die Witkoppie-substasie in Boksburg uitgebreek, maar die metro het geensins moeite gedoen om inwoners op hoogte te hou met die vordering van herstelwerk nie.
Kragtoevoer is dieselfde dag na sekere woonbuurte herstel, maar Beyerspark, Bardene en Bartlett se krag is eers vanoggend herstel.
Inwoners van dié drie woonbuurte wat afhanklik is van suurstofmasjiene, moes tydelik ʼn ander heenkome vind. Baie inwoners moes ook bederfbare voedsel weggooi.
Inwoners het die VF Plus oorval met oproepe oor die vordering van herstelwerk en raadslede moes rondskarrel op soek na antwoorde by die metro.
Dit is onaanvaarbaar dat die metro nie met inwoners of raadslede kommunikeer rakende diensleweringsprobleme nie.


