fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus skryf aan KSA oor skynheilige politieke inmenging met knielgebod

Die raad van Krieket Suid-Afrika (KSA) se besluit om die Protea-krieketspan te verplig om voor elke T20-wêreldbekerwedstryd te kniel in solidariteit teen rassisme is skynheilig en politieke inmenging van die grofste aard.

Dit sal sport oor die algemeen en krieket in besonder in Suid-Afrika onmeetbare skade aanrig en die VF Plus sal ‘n skrywe hieroor aan KSA rig om ten sterkste beswaar aan te teken.

KSA se rasonderrok hang so ver uit dat die liggaam onlangs nagelaat het om vir Faf du Plessis en Imran Tahir saam met Lungi Ngidi geluk te wens met hul Indiese Premiersliga (IPL)-prestasies.

Slegs Ngidi is in ‘n twiet deur KSA geluk gewens, terwyl Du Plessis, wat selfs as speler van die wedstryd in die eindstryd van die IPL aangewys is, nie eens genoem is nie. Hoewel KSA die twiet later gewysig het, is die aanvanklike twiet aanduidend van die rassediskriminasie waaraan KSA homself skuldig maak as gevolg van sy politieke agenda.

Dit is belaglik dat KSA ‘n span dwing om te kniel teen rassisme terwyl die liggaam homself aan sulke blatante rassisme skuldig maak.

Die gees van sport is een van versoening en nasiebou en politieke inmenging sal weer van sport ‘n voertuig vir diskriminasie en verdeling maak.

Krieket Suid-Afrika se nuut aangestelde raad het duidelik iets om te bewys en probeer deur middel van hierdie absurde direktief politieke punte by die minister van sport aanteken. Dit sal vir beide KSA en ongelukkig vir die Proteas in ‘n selfgeskepte rasseslaggat ontaard.

Die vraag ontstaan of hierdie direktief van KSA as werkgewer arbeidsregtelik en grondwetlik regverdigbaar en korrek is.

KSA se politieke agenda sal hom binnekort inhaal tot nadeel van die sport, sy spelers en toeskouers. Die versuim om versoening en nasiebou deur middel van krieket in Suid-Afrika te bevorder sal net nog een punt op die regerende party en sy politieke ideologie se lys van mislukkings wees.

Die VF Plus beywer hom daarvoor om politieke inmenging in sport en die kunste stop te sit.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.