Die VF Plus se ingryping by die Lekwa-plaaslike munisipaliteit (Morgenzon, Standerton) aangaande die swak instandhouding van plaaslike strate, werp nou vrugte af.
Die party het sedert November 2023 volgehoue druk op die munisipaliteit toegepas na vele klagtes van gemeenskapslede aangaande verskeie slaggate in Mbonani Mayiselastraat in Standerton.
Hierdie straat is tans bykans onbegaanbaar en word deur verskeie noodvoertuie as hoofroete gebruik.
Die VF Plus het self gaan ondersoek instel en daarna tydens weeklikse vergaderings met die munisipale bestuur die lede voor stok gekry.
Die VF Plus het ook self moue opgerol en terselfdertyd die stormwater-afvoerslote, wat vol grond en onkruid was, skoongemaak om verdere skade aan die straat te voorkom.
Die munisipaliteit het nou uiteindelik toegestem dat dit noodsaaklik is om die slaggate te herstel, en die herstelwerk sal vanaf 8 Februarie geskied.
Die VF Plus duld nie die vermorsing van belastinggeld nie en sal sy waghondrol aanhou vervul soos in hierdie geval.