Die VF Plus is verheug om te verneem dat een van die nywerhede in Vanderbijlpark se industriële gebied wat die meeste van sy werkers moes ontslaan weens gereelde kragonderbrekings, nou weer van die werkers in diens kon neem.
Dié nywerheid moes noodgedwonge 200 werkers aflê weens die kragonderbrekings en kon slegs drie behou.
Na volgehoue druk van die VF Plus het die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) die foutiewe transformator wat die kragonderbrekings veroorsaak het vervang en is die kragtoevoer na die industriële gebied herstel.
Die party is toegewyd om Emfuleni weer aantreklik te maak vir sake-ondernemings om in te belê en om broodnodige werksgeleenthede te skep.
Die VF Plus sal nie sy druk op die Emfuleni-munisipaliteit verslap om sy dienslewering op te skerp en die instandhouding van kritieke infrastruktuur te prioritiseer nie.