Die VF Plus eis dat die amptenare en raadslede van die Dipaleseng-plaaslike munisipaliteit (Balfour, Greylingstad, Grootvlei) wat in ‘n Artikel 106-verslag betrek word by beweerde korrupsie, onmiddellik geskors word en die volledige verslag dadelik aan raadslede beskikbaar gestel word.
In die verslag wat tydens ‘n raadsvergadering aan raadslede verskaf is, maar na die vergadering weer teruggeneem is, word verskeie amptenare en twee ANC-raadslede betrek by die onreëlmatige betaling van R53,8 miljoen rand aan sewe maatskappye.
Mpumalanga se LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, Busisiwe Shiba, het ‘n Artikel 106-ondersoek in terme van die Munisipale Stelselswet aangevra na beweerde onreëlmatighede met die toeken van tenders en administratiewe foute soos onder meer foutiewe salarisuitbetalings en ‘n algehele gebrek aan bestuurstoesig.
Dit is onaanvaarbaar dat die twee ANC-raadslede wat in die verslag uitgewys word as betrokke by die beweerde optrede, nog dien op die subkomitee wat moet toesien dat die aanbevelings in die verslag geïmplementeer word om soortgelyke ongerymdhede in die toekoms te voorkom.
Indien diegene wat uitgewys word nie verantwoordelik gehou word nie, dui 'n Artikel 106-verslag nie net op vermorsing nie, dit is self 'n vermorsing van hulpbronne.
Die VF Plus sal alles in sy vermoë doen om toe te sien dat alle bewerings van korrupsie en bedrog deeglik ondersoek word, die skuldiges verantwoordelik gehou word en verlore fondse herwin word.