Die Tshwane-metro se afskrywing van agterstallige skuld op munisipale rekeninge stuur die verkeerde boodskap en die VF Plus is sterk daarteen gekant.
Die debiteureboek wat hoofsaaklik skuld op munisipale rekeninge behels, beloop tans R30 miljard. In die konteks van die metro se finansies is die uitgawe-begroting vir die huidige finansiële boekjaar R50 miljard.
Uitstaande debiteureskuld is gevolglik gelykstaande aan 60% van die huidige uitgawe-begroting.
Die voorstel dat agterstallige munisipale rekeninghouers kwytskelding van R20 miljard ontvang, is dus gelykstaande aan 40% van die metro se totale uitgawe-begroting.
Daar is ook aanbeveel dat agterstallige rekeninghouers ʼn 70%-korting ontvang indien hulle hul agterstallige skuld betaal.
Dit is totaal onaanvaarbaar vir die VF Plus aangesien dit in effek swak betalers beloon en getroue betalers straf.
Dit is verder skokkend dat raadslede en amptenare se agterstallige munisipale skuld sowat R18 miljoen beloop.
ʼn ANC-raadslid wat net minder as R1 miljoen agterstallig is, kan nou kwalifiseer vir die afskryf van R500 000 se agterstallige skuld.
Die VF Plus dring daarop aan dat die Munisipale Stelselswet wat bepaal dat raadslede en amptenare wat binne die afgebakende gebied van die metro woon nie langer as drie maande agterstallig mag wees met ‘n munisipale rekening nie, streng toegepas word.
Die burgemeesterskomitee het ook aanbeveel dat inwoners wat hul skuldig maak aan strafregtelike oortredings soos die onwettige koppeling aan die kragnetwerk, 30 dae amnestie ontvang om nuwe kragmeters te installeer.
Dié voorstelle gaan wanbetalers en oortreders nie oortuig om in die toekoms getrou hul rekeninge te vereffen of nie die wet te oortree nie. Dit sal hulle eerder aanmoedig om voort te gaan met hul optrede in die hoop dat hul in die toekoms weer kwytskelding sal ontvang.
Die VF Plus kan die voorstelle nie steun nie en beskou dit as politieke opportunisme in aanloop tot die 2026-verkiesing.


