Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Mpumalanga-provinsiale openingsrede: VF Plus hou visier op dienslewering en korrupsie

Die VF Plus in Mpumalanga sal sy visier gerig hou op swak dienslewering in die provinsie, ten spyte daarvan dat die nuwe premier, mnr. Mandla Ndlovu, sedert sy aanstelling verlede jaar ‘n man van sy woord blyk te wees.

Die feit dat hy daadwerklik die stand van finansiële bestuur en swak dienslewering in die provinsie aangespreek het en uitvoerbare planne ter tafel gelê het, skep hoop dat verandering wel kan plaasvind.

Dit is verblydend dat sedert mnr. Ndlovu aan die stuur van sake is, daar wel vordering gesien kan word in die aantal projekte wat uiteindelik weer na etlike jare se stagnering op dreef kom.

Dit is egter kommerwekkend dat die nuwe premier reeds nuwe projekte en werkskepping beloof alvorens die uitstaande projekte gefinaliseer is.

Hy sal op munisipale vlak ‘n groot verandering moet aanbring aangesien dit steeds die wit olifant in die vertrek is wat deur niemand erken word nie.

Dit is veral paaie, water en veiligheid wat die grootste uitdagings vir Mpumalanga inhou. Landelike en stedelike gebiede gaan gebuk onder jare se verwaarlosing van infrastruktuur en finansiële wanbestuur deur die meeste munisipaliteite in die provinsie. Die premier het nie genoem hoe hy van plan is om hierdie wanbestuur en korrupsie aan te spreek nie.

Die gebrek aan vaardighede, finansiële dissipline, verantwoordbaarheid en stabiele, etiese leierskap op munisipale vlak moet nou reggestel word.

Wat die hoё misdaadvlakke in die provinsie aanbetref, wil die party graag sien dat die premier strenger pogings prioritiseer om die instroming van misdadige elemente by grense te bekamp. Die premier het reeds bewys hy kan dit doen deur die suksesvolle operasies waartydens onwettige myners (zama-zama’s) in hegtenis geneem is. Hierdie positiewe operasies moet na die onderskeie grense uitgebrei word.

Die VF Plus sal nie verslap in die oorsigrol wat hy binne die wetgewer speel nie. Dus sal die party toenemend druk toepas om toe te sien dat die premier se beloftes uitgevoer word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.