Inwoners van Ekurhuleni word weer gestraf met die metro se 2024/25-aansuiweringsbegroting wat gister ter tafel gelê is. Die begroting maak dit duidelik dat finansiële wanbestuur en verkeerde prioriteite steeds aan die orde van die dag is.
In stede daarvan om diensleweringsprobleme aan te spreek, toon die aansuiweringsbegroting roekelose herverdelings en ʼn versuim om inwoners se behoeftes te prioritiseer.
Die kapitaalbegroting is met R11.46 miljoen verminder, ten spyte van die metro se dringende behoefte aan infrastruktuurontwikkeling en -instandhouding. Dit is onaanvaarbaar gegewe die haglike toestand van paaie, water- en kraginfrastruktuur en vullisverwydering.
Fondse word weggeskuif van kritieke infrastruktuurprojekte terwyl inwoners steeds ly onder wateronderbrekings, kragonderbrekings, paaie vol slaggate en verkeersligte wat nie werk nie.
Die herverdeling van R50 miljoen van die openbare vervoernetwerk-toekenning na bedryfsbesteding wek ernstige kommer.
Die metro moes eerder belê het in ‘n volhoubare infrastruktuur en die verbetering van openbare vervoer, in stede van toekenningsfondse vir korttermyn-bedryfsbehoeftes – ‘n teken van swak finansiële beplanning.
Die bedryfsinkomste is opwaarts met R838.8 miljoen aangepas, omdat die metro nie genoeg geld genereer om die metro behoorlik te bestuur nie.
Ekurhuleni het slegs genoeg fondse om sy uitgawes vir tussen elf en veertien dae te verseker. Die aangewese teiken is 25 dae.
Terwyl inwoners hoёr belasting en tariewe in die gesig staar, versuim die metro om onnodige uitgawes en korrupsie te bekamp.
Die toename van meer as R1 miljard in gekontrakteerde dienste is kommerwekkend, aangesien uitkontraktering dikwels tot ondoeltreffendheid en opgeblaasde kostes lei.
Die begroting toon lae besteding aan noodsaaklike dienste soos water, sanitasie en vullisverwydering, ten spyte van inwoners se klagtes oor swak dienslewering.
Departemente soos vervoerbeplanning en -voorsiening het teen Desember 2024 slegs 3.2% van sy begroting bestee, wat ‘n ernstige gebrek aan projek-implementering uitlig.
Die VF Plus staan vas teen die voortgesette wanbestuur van Ekurhuleni se finansies. Die inwoners van die metro verdien ‘n regering wat dienslewering, infrastruktuurbeleggings en finansiële dissipline prioritiseer.
Die VF Plus sal voortgaan om die administrasie aanspreeklik te hou en te veg vir die verantwoordelike gebruik van belastingbetalers se geld.


